Charles Spurgeon (bron: “Morning and Evening”)
“Salig is hy wat waak ...” (Op. 16:15).
Paulus sê: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word” (2 Kor. 4:8-10).
Ons mag in die toekoms dalk ook verdruk word. Die wêreld is vinnig besig om te verander en die Christendom word toenemend bespot, geminag en selfs verbied. Die geskiedenis herinner ons daaraan dat verdrukking kom en gaan, en dit is moontlik dat ons nou, ná ʼn lang tyd van vrede en vryheid, weer ʼn tyd van haat en geweld mag beleef. Diegene wat aan Jesus behoort, het egter ʼn plek van veilige toevlug: Hy is ons skuilplek, ons sterkte en ons blydskap. Hoe geseënd is ons nie om in ʼn tyd soos hierdie aan Hom te behoort nie!
“Ek sterf dag vir dag,” het die apostel gesê (1 Cor. 15:31). Dit was die ervaring van die vroeë Christene, en hulle lewens was voortdurend bedreig. Die meeste van ons is nie geroep om deur dieselfde gevreesde verdrukking te gaan nie. Indien dit wel sou gebeur, sal die Here aan ons genade gee om die toets te kan deurstaan. Tans is die toetse van die Christelike lewe van ʼn heel ander aard wat wel nie uiterlik so erg is nie, maar nogtans is dit meer waarskynlik dat ons daardeur oorwin sal word as wat Christene voor die vurige toeste van vorige eeue geswig het.
Ons moet die spot van die wêreld verduur, maar dit is die minste! Die wêreld se sagte woorde, sy vleitaal, sy flikflooiery en skynheiligheid is veel erger. Ons grootste gevaar is dat ons ryk en hoogmoedig sal word, dat ons die modes en gebruike van die verdorwe wêreld sal navolg en as gevolg daarvan ons geloof verloor. Indien ons nie deur rykdom getoets word nie, kan die sorge van die lewe net so ʼn afbrekende invloed op ons hê. As ons nie ʼn slagoffer van die verskeurende leeu is nie, kan ons ewe maklik deur die misleidende omhelsing van die beer vernietig word. Die duiwel gee nie om watter metodes hy gebruik nie, solank hy net ons liefde vir Christus en ons vertroue in Hom kan vernietig.
Ek is bevrees dit is veel meer waarskynlik dat die Christelike kerk sy integriteit sal verloor in hierdie moeitevrye tyd as wat die geval was gedurende daardie moeilike jare van aanvegting en stryd in die verlede. Ons moet geestelik wakker wees want ons kan deur ons eie toedoen aan die slaap raak. Geloof in Jesus Christus moet ʼn groot werklikheid in ons lewe wees en ons liefde vir Hom soos ʼn vlam wat helder brand. In hierdie dae van oppervlakkigheid en ʼn maklike belydenis van geloof is baie mense eerder onkruid as koring – skynheiliges met ʼn mooi uiterlike vertoon maar sonder dat hulle werklik weergebore kinders van die lewende God is.
Christen, moenie dink dat dit nou ʼn tyd is waarin jy sonder waaksaamheid en ʼn heilige toewyding aan die Here oor die weg sal kom nie. Jy het hierdie eienskappe meer as ooit tevore nodig, en mag die ewige God sy almag aan jou openbaar sodat jy in goeie én slegte tye sal kan sê: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Rom. 8:37).
Soos Paulus moet ons die koste daarvan bereken om ʼn ware volgeling van Christus te wees: “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here ... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:8, 10).