Die Einde van ons Aardse Wedloop

Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2013)

Paulus het kort voor sy dood sy geestelike reis deur die lewe opgesom in woorde wat terselfdertyd ’n paslike grafskrif vir hom sou kon wees: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:7-8).

Dit was deel van hierdie groot apostel se afskeidswoorde aan sy vriend, Timótheüs. Hy het geweet dat die einde van sy pad op aarde aangebreek het, daarom het hy gesê: “... die tyd van my heengaan is naby” (2 Tim. 4:6). Nie lank daarna nie het Paulus as ’n martelaar vir sy geloof in Rome gesterf. Met die vrymoedigheid wat net ’n ware Christen kan hê, het hy gesê dat hy die goeie stryd gestry, die wedloop voleindig, en die geloof behou het.

Dit is die kenmerke van ’n persoon wat sy hele lewe aan die Here gewy het, wat kragtig gestry het vir die waarheid, wat sy roeping as apostel sonder huiwering vervul het, en tot die einde toe op die smal pad van geloof volhard het. As gevolg hiervan het hy reikhalsend uitgesien na die wederkoms van die Here Jesus, wat ook die openbaring sal wees van die hemelse koninkryk waaraan Paulus sy hele lewe en bediening te midde van fel teëstand gewy het.

Enige ernstige gelowige behoort daarna te streef om so ’n vrymoedige en oortuigende geloofsbelydenis te verklaar. Kom ons kyk na wat die volle implikasies is van die vier belangrike stellings wat Paulus gemaak het:

Eerstens: Ek het die goeie stryd gestry

Judas 1:3 sê dat ons kragtig moet stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Vir die meerderheid mense is die eise wat gestel word ten opsigte van die ware evangelie van regverdigmaking deur wedergeboorte, asook heiligmaking deur vervulling met die Heilige Gees, heeltemal te hoog. ’n Deeglike sondebelydenis as deel van die proses van bekering (vgl. 1 Joh. 1:8-9), is nie vir oppervlakkige soekers na saligheid aanvaarbaar nie, want hulle soek na ’n makliker pad hemel toe. Hulle wil met hulle sonde en al deur die hemelpoorte ingaan, daarom moet die smal pad vir hulle so ’n bietjie breër gemaak word deur ’n vorm van toegerekende geregtigheid waarvolgens daar nie ’n sterk aandrang op bekering en sondebelydenis is nie. Doopsaligheid sonder ’n getuienis van bekering en wedergeboorte is een van verskeie valse fondamente wat wyd voorkom onder diegene wat net ’n gedaante van godsaligheid het (vgl. 2 Tim. 3:5). Dit is om redes soos dié dat die verkondiging van die ware evangelie nog altyd met stryd en teëspraak gepaard gegaan het.

Paulus het in sy eerste brief aan Timótheüs gesê: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12). Paulus noem die stryd vir die behoud van die ware evangelie ’n goeie stryd. Daar is baie dinge in die lewe waarvoor mense ’n stryd, en selfs oorloë voer, maar daar is net een werklik eerbare stryd, en dit is die stryd vir die bekendmaking en verdediging van die evangelie van Jesus Christus. Dit is die enigste manier waarop ons die sout van ’n bedorwe aarde en die lig van ’n donker wêreld kan wees.

Die evangelie van Christus is die enigste oplossing vir ’n wêreld wat in immoraliteit, dubbele standaarde, wetteloosheid en geestelike dwalings vasgevang is. Hoe langer hierdie boodskap van mense weerhou word, hoe dieper sal hulle in duistere dwaalweë verstrik raak. Die Bybel noem alle vorms van afwykende gedrag “sonde” omdat dit in botsing is met die eise van God se heiligheid en geregtigheid.

In Spreuke 14:34 staan daar: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies.” Ons moet enduit betrokke wees by die eerbare stryd vir die behoud en eerbiediging van Christelike waardes op alle vlakke van die samelewing. Kan jy ook sê dat jy die goeie stryd van die geloof gestry het? Dit is beslis nie maklik om dit te doen nie, en dit maak jou nie meer gewild in die samelewing nie – inteendeel, dit kan selfs vervolging vir jou meebring.

Paulus het die uitdaging en negatiewe sosiale implikasies van die verkondiging van die suiwer evangelie ook sterk beklemtoon in die slothoofstuk van sy brief aan Timótheüs: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar ... vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:3-5). Ons moet die woord van die waarheid reg sny, die koste van dissipelskap bereken en onbevrees stry vir die waarheid.

Tweedens: Ek het die wedloop voleindig

Dit is ongelukkig nie alle gelowiges wat met oortuiging aan die einde van hulle lewe kan sê: “Ek het die wedloop voleindig” nie. Daar is baie dinge wat ons vordering kan vertraag en ons selfs heeltemal van die wedloop kan uitskakel, en om dié redes beklemtoon Paulus die noodsaaklikheid van voortgesette toewyding en volharding: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2).

Daar is baie laste wat ons moet aflê as ons die Here van harte wil dien. Laste is dinge wat nie in sigself sonde is nie, maar wat ons nogtans daarvan weerhou om die Here voluit te dien. Dit is dinge wat soveel van ons aandag, tyd, energie en geld in beslag neem dat dit ons van die Here se dinge af weghou.

Ons leef in ’n hoogs kompeterende samelewing wat baie van ons verg om finansieel te kan oorleef, akademies aan hoë verwagtinge te voldoen, en ook reg te laat geskied aan al ons verpligtinge. Ons kan onmoontlik nie alles doen wat kan of moet gedoen word nie, daarom gaan dit oor hoe ons ons prioriteite bepaal. As die Here en die verpligtinge van sy koninkryk nie regtig vir ons belangrik is nie, sal dit baie laag op ons prioriteitslys wees. Baie mense se sug na rykdom en sukses in die materiële wêreld is hulle belangrikste doelstellings.

Ons moet seker maak dat die magdom sekulêre verpligtinge nie laste word wat tussen ons en die Here inkom nie. Maak seker dat jy nie net aardse skatte opbou nie, maar ook ’n skat in die hemel weglê wat nooit van jou af weggeneem kan word nie. Die ryk jongman in die Bybel is deur sy aardse skatte daarvan weerhou om ’n dissipel van Jesus te wees (Mark. 10:21-22). Om te veel laste, verpligtinge en aardse belange met jou te probeer saamsleep deur die lewe, is soos iemand wat ’n maraton probeer hardloop met swaar bagasie wat hy met hom saamdra. Hy sal nie ver kom voordat sy laste hom sal uitput en hy die wedloop staak nie.

Benewens laste verwys Paulus in Hebreërs 12:1 ook na sonde wat afgelê moet word. Alle Christene kan, solank hulle nog in ’n sterflike liggaam is, versoek word om sonde te doen. Die sonde kan ons maklik omring. Ons kan aan ’n versoeking toegee en ’n onbesonne daad doen wat ons geestelik kan lamlê en alle motivering kan wegneem om vir die Here te werk. Sulke persone moet, soos die verlore seun, na die Vader teruggaan, hulle sonde bely en weer ’n nuwe oorgawe maak om die Here te dien.

As Christus die Leidsman en Voleinder van ons geloof is, dan is Hy die belangrikste doelwit van ons lewe. Sulke gelowiges sal nie toelaat dat laste en sonde hulle laat struikel nie, maar sal die geestelike wedloop voortsit totdat hulle hul finale bestemming bereik. Maak seker dat jy ook sal kan sê: “Ek het die wedloop voleindig.”

Derdens: Ek het die geloof behou

Saam met volharding in die wedloop van die lewe gaan ’n stryd om behoud van die geloof. ’n Ware geloof verwys na die geestelike band wat ons deur Jesus Christus met God die Vader het. Mense wat nie deur die geloof aan die Here Jesus verbind is nie, word as ongelowiges beskou (2 Kor. 4:3-4). Ons moet egter onthou dat die duiwel nie net daarop ingestel is om ongelowiges van die aanvaarding van die evangelie af weg te hou nie – hy is ook aktief besig om Christene se geloof aan te val en te probeer verswak of vernietig.

Paulus sê vir Timótheüs dat hy “aan die geloof en ’n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Daar was in die eerste eeu al van hierdie geestelike skipbreukelinge wat in ’n stadium geglo het, maar later afvallig geraak het. Paulus het sy gelowige tydgenote in Israel ernstig teen geloofsverval gewaarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie” (Heb. 3:12).

Geloof moet dus opgebou en versterk word, anders verswak dit en kwyn later weg. Het jy ’n onwankelbare, sterk geloof, of het jou geloof deur twyfel en krisisse verswak geraak? Die Here Jesus het selfs in ’n stadium vir Petrus gesê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matt. 14:31). Ons moenie tot op die punt van twyfel afdaal in ons geloofslewe nie, maar opgebou word in die allerheiligste geloof (Jud. 1:20). Paulus sê ons moet opgroei tot ’n volwasse man in Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Ons moet geestelik so sterk staan dat ons glad nie deur die storms en krisisse van die lewe tot twyfel of wanhoop gedwing word nie. Of dit nou goed gaan of sleg gaan, ons moet ’n vaste vertroue in die Here hê. Die Bybel beskryf ’n sterk geloof só: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).

Dit is duidelik wat die geheim van hierdie groen boom is. In die verborgene, diep onder die grond, het hy sy wortels uitgeskiet tot in ’n stroom. Dit is die rede waarom droogtes, hitte en moeilike uiterlike omstandighede hom hoegenaamd nie geaffekteer het nie. Sy blare het groen gebly en sy voortbestaan was seker en gewis. Dit is ook die geheim van ’n toegewyde Christen – hy is soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nooit verwelk nie (Ps. 1:3).

Die waterstroom verwys na die Here Jesus, asook na ’n lewe wat vervul is deur sy Heilige Gees. Hy het gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Word jou lewe ook deur hierdie verborge kragbron gekenmerk? Dan sal jy buite in ’n agnostiese en vyandige wêreld staande bly en nooit deel van ’n vervalle wêreld se geestelike probleme word nie. Ons moet ’n verborge, binnekamerlewe hê waar ons geloof gevoed en versterk kan word (Matt. 6:6). Dit sal ons help om elke moeilike omstandigheid te bowe te kom en staande te bly teen toetse en versoekings.

Ons moet onafgebroke in verbinding met die fontein van lewende water bly, dan sal ons nooit geestelik verdroog en ’n slagoffer van moeilike omstandighede word nie. Dit is waarom Paulus selfs te midde van lewensgevaar kon sê: “Ek het die geloof behou.” Ons geloof sal ons help om alle aanslae te oorleef en geestelik sterker uit die stryd te tree.

Vierdens: Ek het sy koms verwag

Dit is noodsaaklik om sterk ingestel te wees op die wederkoms van Christus en die openbaring van sy koninkryk wat tans nog verborge is omdat dit nie van hierdie wêreld is nie. Om sy koms lief te hê, is ’n seker aanduiding daarvan dat jy verlang na die geregtigheid wat op aarde sal heers nadat Jesus Christus as die Koning van die konings teruggekeer en sy regering van geregtigheid hier gevestig het. Dit help om jou los te maak van die huidige, verdorwe wêreld waarin jy slegs ’n vreemdeling en bywoner is. Paulus sê: “Ons burgerskap is in die hemel, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20).

Is die geregtigheid van Christus se koninkryk ook jou en my verlange en bid ons ernstig dat sy koninkryk sal kom? Of is ons dalk met ons eie koninkryk hier op aarde besig en begeer nie regtig die koms van Christus se koninkryk nie?

’n Voormalige goewerneur van Massachusetts in die VSA, John Brooks, het op sy sterfbed gesê: “Ek sien geen verskrikking in die dood nie. Ek het geen vrees as ek na die toekoms kyk nie, want ek weet in wie ek glo. Ek kyk met nederigheid terug op my lewe omdat ek van al my swakhede en onvolmaaktheid bewus is, maar nou rus my siel op die genade van my Skepper deur die enigste Middelaar, sy Seun, ons Here Jesus Christus.” Die oomblik toe John Brooks sterf, het hy sy hand uitgesteek en toe hy gevra is: “Waarheen reik u?” het hy in ’n fluisterstem gesê: “Na ’n koninkryk.”

Ons moet ook aktiewe lede van God se koninkryk wees. In die lig hiervan moet ons ’n sterk verwagting hê na die vestiging van Christus se regering van vrede en geregtigheid in hierdie verdorwe wêreld. Om in hierdie toekomstige koninkryk te deel, moet jy nou reeds, in hierdie lewe, ’n verhouding hê met Jesus Christus wat by sy tweede koms as Koning van die konings geopenbaar sal word in die wêreld.

Om Hom enduit te volg, is ’n uitdaging – want daar is ’n geloofstryd om teen sonde en geestelike dwalings te stry, daar is ’n veeleisende wedloop om te voltooi, en daar is ’n vaste geloof in die onsienlike wat nie net behou moet word nie maar ook gaandeweg versterk moet word. Slegs dan sal jy onder die oorwinnaars wees wat saam met die Here Jesus in sy koninkryk sal regeer. Hy bemoedig sy getroue dissipels só: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).

Ons is verganklike mense wat in ’n verganklike wêreld woon. Dit behoort ons aan te spoor om onverganklike kwaliteite tot ons lewe toe te voeg: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?” (2 Pet. 3:11). Ons moenie net van die onsigbare, geestelike dinge bewus wees nie, maar ons ook vir die bevordering daarvan beywer, self al bring dit vir ons verdrukking mee. Paulus sê:

“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ’n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor. 4:16-18).