Die regverdigmaking wat op grond van bekering plaasvind, moet in alle Christene se lewens na ’n onmiskenbare ervaring van heiligmaking lei. Die behoefte hieraan word duidelik in die Evangelies deur die Here Jesus aan sy dissipels gestel, en ook in al die ander boeke van die Nuwe Testament beklemtoon. Wanneer hierdie geestelike behoefte goed begryp word, sal die vereiste van vervulling met die Heilige Gees erken en met oorgawe deur meer Christene gesoek word.
Heiligmaking as ’n verdere genadewerk ná regverdigmaking is ’n noodsaaklike belewenis in ’n Christen se geestelike lewe. ’n Gebrek hieraan lei na ’n lewe waarin die ou natuur – hoewel in beginsel afgelê (Gal. 5:24) – nie in die praktyk gekruisig is nie en die persoon dus ook nie met die Heilige Gees vervul is nie. Die gevolg hiervan is dat die werke van die ou, vleeslike natuur dominant bly in sy lewe. Dit manifesteer in gesindhede soos oorheersing deur die eie-ek, geestelike arrogansie en meerderwaardigheid, materialisme, wêreldgesindheid, ’n kritiese en veroordelende gees teenoor ander Christene, geestelike onvrugbaarheid, verkeerde prioriteite, en ’n lewe van val en opstaan.
Die behoefte aan heiligmaking in die kinders van God se lewens word telkens in die Bybel genoem. Begrippe wat direk hiermee in verband staan, is die vervulling of salwing met die Heilige Gees, dissipelskap, vrugte dra wat by die bekering pas en geestelike volwassenheid. Die volgende is sommige van die duidelikste stellings oor die behoefte aan heiligmaking, en dit vorm die basis vir voortgaande bespreking in die boek:
Die dissipels het ’n ooglopende behoefte aan die vervulling met die Heilige Gees getoon omdat hulle so vervuld was van hulleself. Jesus het hulle hierop gewys toe hulle onder mekaar geredeneer het oor wie die grootste en belangrikste onder hulle was (Luk. 22:24-26; Matt. 20:27-28). Ook het hulle verkeerdelik gemeen dat hulle uit eie krag getrou aan die Here Jesus kon bly en Hom nie sou verloën nie. Petrus het egter vir Christus in dieselfde nag drie maal verloën nadat hy uit eie krag gesê het dat hy dit nie sou doen nie (Matt. 26:33-35).
’n Verdere aanduiding van ’n behoefte aan heiligmaking is die gebrek aan geestelike vrug in ’n persoon se lewe. Hy is soos ’n boom wat wel leef, maar geen vrug dra nie. Ons het ’n definitiewe opdrag tot vrugbaarheid: “Dra dan vrugte wat by die bekering pas” (Matt. 3:8). Jesus het gesê: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem [die Vader] weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon sodat dit meer vrug kan dra” (Joh. 15:3).
Jesus het die dissipels beveel om nie met die opdrag van evangelisering te begin voordat hulle met die instaatstellende krag van die Heilige Gees vervul sou wees nie: “En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle, maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49). Dit sou hulle bekwaam maak om die wêreld in die Naam van Jesus Christus aan te spreek: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Gelowiges wat nie met hierdie krag beklee is nie, kan nie in die betoning van Gees en krag getuig nie, daarom is hulle prediking niks meer nie as oorredende woorde van menslike wysheid (1 Kor. 2:4).
Die Here Jesus het gesê: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Om heilig te kan lewe en sonde en versoekings te oorwin, moet ons altyddeur waak en bid. Sodoende bly ons voortdurend in Christus en Hy in ons. Ons word voor die nadruklike uitdaging gestel om toegewyd te leef en oor versoekings en vleeslike swakhede te triomfeer. Sonder ’n verbintenis tot heiligheid sal ons nie daartoe in staat wees nie.
Heiligmaking vereis ’n vasberade ingesteldheid téén sonde en vír God se geregtigheid. Paulus sê: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here … Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Rom. 6:11, 22). Ons moet dus voortdurend sorg dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig word nie, maar verander word deur die vernuwing van ons gemoed sodat ons God se wil kan ken en ook van harte sal doen.
Die vlees, of ou natuur van die mens, onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie (Rom. 8:7). Daar is net een raad met hom, en dit is dat hy gekruisig moet word. As die vlees nie aktief en doelbewus gekruisig word nie, sal hy jou aftrek in die verdoemenis in. “As julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe” (Rom. 8:13). Ek moet my daagliks vereenselwig met die kruis van Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld (Gal. 6:14). Selfs volwasse Christene wat reeds op die weg van heiligmaking gevorder het, word deur Satan versoek om opnuut vleeslike begeertes te begin najaag, bv. rykdom en selfverheffing. Ons verbintenis tot heiligmaking moet dus gereeld herbevestig en hernu word.
’n Vleeslike ingesteldheid het ’n hoogs verlammende effek op Christene en lê enige moontlikheid van geestelike groei aan bande. Die apostel Paulus het aan die sukkelende, vleeslike Korinthiërs gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Mense groei nie vanself uit hierdie toestand van vleeslikheid nie. Hulle moet ’n doelbewuste, volle oorgawe maak waarin die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede, met al sy eiesinnigheid en soeke na selfverheerliking, oorgelewer word om gekruisig te word.
Die algemene verskynsel van geestelike onvolwassenheid onder kinders van die Here beklemtoon die behoefte aan heiligmaking en groei baie sterk. Hiersonder is ’n persoon onbruikbaar in die diens van die Here en het ook nie die geestelike onderskeidingsvermoë om dwalings te kan identifiseer nie. Paulus sê ons moet toeneem in die ware kennis van Christus en nie soos kinders wees wat maklik beïnvloed word deur verkeerde denkrigtings nie (vgl. Ef. 4:13-14).
Deur heiligmaking vorder jy op hierdie pad tot op die punt waar jy self andere uit die Woord van God kan leer. Deur ’n gebrek aan heiligmaking en geestelike groei sal jy nooit hiertoe in staat wees nie (vgl. Heb. 5:12-6:1).
Die rede waarom Christene nie outomaties opgroei tot geestelike volwassenheid en oorwinning nie, is omdat die struikelblok van die oue mens, met ander woorde hulle ou, sondegeneigde natuur, eers uit die weg geruim moet word voordat hulle ongehinderd volgens die nuwe mens sal kan leef. Gelowiges word vermaan: “… dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). ’n Ondubbelsinnige oorgawe is hiervoor nodig.
Die verdere genadewerk staan in verband met ’n heilige lewe, en volg op die eerste genadewerk van reiniging en wedergeboorte. Jesus Christus het Homself vir altwee hierdie genadewerkinge aan ons oorgegee: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Christus het Homself nie net vir ons redding oorgegee nie, maar ook vir ons heiligmaking.
Die verdere genadewerk word ’n werklikheid deur die vervulling met die Heilige Gees. Hiervoor moet ons ’n oorgawe maak waarin ons van alle oorheersing deur sonde in ons lewe afstand doen en onsself aan die volle heerskappy van die Heilige Gees toevertrou: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Hierdie oorgawe moet ook ’n lewenswyse word: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).
Die apostel Paulus sê: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry … sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word … Nie dat ek al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp” (Fil. 3:7-12).
Paulus was nie volmaak nie; hy was in ’n proses van vervolmaking. Hiervoor is daar twee dinge nodig: (1) ’n bewustelike aflegging van die ou lewe en alles wat die wêreld aan jou bied, en (2) ’n proses waarin jy toenemend aan die opstandingslewe van Jesus Christus gelykvormig word. Die beoefening en najaag van die nuwe lewe is wesenlik wat die proses van heiligmaking behels.
In die lig van ons hemelse burgerskap moet ons heilig en afgesonderd in hierdie verdorwe wêreld leef. Mense wat volgens die eerste beginsels van die vlees en die wêreld leef, kwalifiseer nie om eendag hemel toe te gaan nie. Paulus sê: “Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo, hoe ons, soos julle weet, net soos ’n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep” (1 Thess. 2:10-12).
Met die oog op die naderende wederkoms en ons persoonlike ontmoeting met die Here Jesus moet ons onsself van al die sondige praktyke van die wêreld distansieer en die heiligmaking najaag, waarsonder niemand die Here sal sien nie (Heb. 12:14). Hy wat die hoop op Jesus se wederkoms het en homself hierop voorberei, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).
Ná bekering moet ons deur die heiligmaking voortgaan om oorblywende aspekte van die ou lewe af te lê en ons toenemend met die nuwe lewe te beklee. Saam met die Christene in Kolosse kry ons die pertinente opdrag: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het … Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het … En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kol. 3:8-14).
Ná ons aanvanklike heiligmaking tydens redding (dit is die eerste reiniging van ons sondes), het ons as Christene ook nodig om met die Heilige Gees vervul te word en sodoende deur die Here met die krag tot volkome heiligmaking beklee te word: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).
Dit is net die Here wat ons “harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 3:13). Dit vereis egter ook getrouheid en gehoorsaamheid van ons kant af om die Here op hierdie nuwe en lewende weg te volg en van harte te dien.
Die genade van die Here wat tydens bekering aan ons gebied word, lei en verbind ons daartoe om ná ons redding ’n heilige en vroom lewe te leef in afwagting op die Here Jesus se wederkoms: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:11-13).
Implisiet in die genade van die Here, is benewens die saligmakende krag daarvan, ook ’n oproep tot ’n lewe van godsvrug en heiligheid.
Die motivering vir heiligheid is geleë in die karakter en wil van God self, wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Dit is sy uitdruklike wil vir ons lewe: “… dit is die wil van God: julle heiligmaking … Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). In die lig hiervan, sê Petrus, moet ons alle boosheid, bedrog, geveinsdheid, afguns en kwaadpratery aflê, en sterk verlang na die onvervalste melk van die Woord (1 Pet. 2:1-2).
Dit kom op geestelike ontrouheid teenoor die Here neer om met die wêreld en sy sonde kompromie te maak: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God” (Jak. 4:4). Die wêreld moet verloën word. Ons kan nie wêreldse gewoontes en beginsels met ’n lewe van heiligmaking versoen nie (1 Joh. 2:15-17).
Die grondreël van die Christen se lewe in hierdie bose wêreld is dat hy aan die Here getrou moet bly deur nie te sondig nie. As hy wel sondig, is dit ’n ramp in sy lewe. Dit kan weer vergewe word, maar weens die skade en skande daarvan behoort sonde deur ’n heilige lewe voorkom te word: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige” (1 Joh. 2:1; my beklemtoning).
’n Oorgawe tot heiligmaking bring ons by die regte geestelike ingesteldheid om die vrug van die Gees in ons lewens te laat gedy. Hierdie werke is die bewys van ’n ware geloof. Jakobus sê dat die geloof sonder werke dood is (Jak. 2:14, 26). Dit is nie werke hierdie wat jy vír die Here doen nie, maar werke wat Hy déúr jou doen. Jy moet net ’n oop kanaal wees waardeur die Heilige Gees kan werk. Sonder werke van hierdie aard gaan jy ’n onseker toekoms tegemoet. Jy is dan óf ongered met ’n dooie geloof, óf jy is nog net by die toetreepunt van die geloofslewe en sal eendag as gevolg van jou onvrugbare lewe met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15).
Heiligmaking is ’n dinamiese proses wat ook in sy omvang en intensiteit moet toeneem. Petrus sê dat ons voortdurend moet groei in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18). Een van die laaste opdragte aan die kerk het op toenemende heiligheid en diensbaarheid betrekking: “Laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).
Heiligmaking vereis dat ’n persoon in die gesonde leer van die Bybel sal volhard en die kompromiemakers en afvalliges in liefde sal teregwys en vermaan: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:2-5).
Die afvalliges en vleeslikes moet hulle verootmoedig: ’n Broeder wat van die waarheid afgedwaal het, moet vermaan word en hom uit sy dwaalweë bekeer (Jak. 5:19).
Met leerstellige verval gaan daar ook geloofsverval en morele verval gepaard. Dit kan alles toegeskryf word aan die verleiding van Satan, waaraan sommige mense toegee. Wanneer ander Christene hierdie verwoestende verskynsel in ’n broeder se lewe opmerk, moet hulle hom ernstig vermaan en oproep tot ’n nuwe oorgawe vir geestelike herstel en heiligmaking: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13).
Hoe moet daar teen ’n broeder of suster opgetree word wat in die sonde geval het? Hulle moet beslis nie summier veroordeel, geïgnoreer of verdoem word nie, want enigeen kan dalk in dieselfde situasie beland. Sulke persone moet gehelp word: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal 6:1).
Ons moet altyd waak teen oorgerustheid en selfregverdiging, want diegene wat meen dat hulle altyd staande sal bly, moet oppas dat hulle nie ook versoek word en dalk tot ’n val kom nie (1 Kor. 10:12).
Die heel eerste geestelike bate wat ’n teruggevalle Christen verloor, is sy heiligmaking. Deurdat hy aan die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede toegee, gaan hy willens en wetens onder die beheer van die Heilige Gees uit en begin om weer onder die mag en invloed van die vlees te lewe. Die Galásiërs het ná ’n goeie begin leerstellig veragter en in die mag van die vlees geëindig: “O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie? … Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:1, 3).
Wanneer ’n mens in hierdie toestand verval het, beland jy in ’n geestelike skaakmatposisie. Jy kan nie meer jou goeie voornemens uitvoer nie, omdat die vlees (jou ou, sondige natuur) weer ’n vastrapplek en ’n groot mate van beheer in jou lewe gekry het en ’n ernstige struikelblok in jou geestelike lewe is: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Verskeie van die werke van die vlees begin weer in ’n teruggevalle persoon se lewe te manifesteer. Dit kan hoogmoed, geldgierigheid, arrogansie, onbeheerde of perverse seksualiteit, buite-egtelike verhoudings, leuens, woede-uitbarstings, lastertaal, drankmisbruik of verskeie ander sondes wees. Hieruit sal dit vir almal duidelik wees dat die betrokke persoon nie meer heilig lewe nie. Daar is ook mense wie se verval nie die vorm van selfverheffing aanneem nie, maar eerder tot uiting kom as selfbejammering en verbitterdheid: “… en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie. Laat niemand ’n hoereerder wees nie, of ’n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het” (Heb. 12:15-16).
Baie mense wat in die genade veragter en hulle heiligmaking verloor het, raak verbitterd oor wat met hulle gebeur het. Hulle kan teen omstandighede verbitterd raak, teen ander mense, en selfs teen God, vir wie hulle ook vir hulle teëspoede en probleme blameer. Hierdie negatiewe gedagtes word in gesprekke op ander oorgedra, en sodoende trek hulle ander mense af en besoedel hulle geestelik. Hoereerders en kompromiemakers beklad nie net hulle eie lewens nie, maar benadeel ook die naam van die Christendom en ontmoedig jong gelowiges om die goeie stryd van die geloof te stry.
Paulus sê vir Timótheüs dat hy “aan die geloof en ’n goeie gewete moet vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Volharding is nodig, “want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Paulus sê ook vir die Kolossense dat hulle gegrond en vas moet bly in die geloof en hulle nie van die hoop van die evangelie moet laat afbring nie (Kol. 1:23).
Die uitweg uit ’n toestand van geestelike verval is terug na Christus, waar jy al jou sondes moet bely en laat staan. Die verlore seun het dit gedoen, en is volkome herstel. Gereinig deur die bloed van die Lam, kan jy opnuut om die vervulling met die Heilige Gees bid. Dawid, wat ook in ’n stadium teruggeval het, het sy sondes bely en om volkome herstel gebid (lees Ps. 51).
Dit is noodsaaklik dat daar ’n uitreiking na teruggevallenes moet wees, want daar is baie sulke mense in die samelewing. Hulle moet so gou as moontlik geestelik herstel en deur goeie onderrig in die leer van heiligmaking bevestig word. Vleeslike Christene is kandidate vir teruggevallenheid omdat hulle lewens nie onder die beheer van die Heilige Gees is nie (vgl. 1 Kor. 3:1-4). Geestelike onderskeidingsvermoë en die nodige krag tot oorwinning ontbreek nog in hulle lewens.
Ons het ’n groot behoefte aan heiligmaking en oorwinning in ons lewe! Dit is die rede waarom almal van ons die opdrag het om ná ons bekering te wag op die Here totdat ons met krag uit die hoogte toegerus is (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8). Deur ’n oorwinnende lewe word die Here geëer en sy koninkryk op aarde uitgebrei.