Ons moet op die pad van heiligmaking volhard. Nie almal doen dit nie, en beperk daardeur hulle geestelike groei, of kanselleer dit selfs. Die Here Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4-6).
Ons redding is ’n gawe wat deur die geloof ontvang word, en kan nie deur werke van enige aard verdien word nie. Paulus sê: “Uit genade is julle gered, deur die geloof ... nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Ef. 2:8-9). In die volgende vers word werke egter beveel as ’n integrale deel van ons lewe ná bekering: “Want ons is geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Ons moet aan ons heiligmaking werk, omdat ons as geredde mense medewerkers is van God deur Christus Jesus (1 Kor. 3:9). Die Here rus ons deur sy Heilige Gees toe om heilig te kan leef, maar ons moet aktief en doelgerig deur die Gees wandel en werke van toewyding doen sodat ons vrugte kan dra wat by die bekering pas (Matt. 3:8).
Wat behels volharding in heiligmaking alles?
Voordat ek in heiligmaking kan volhard, moet ek dit eers deelagtig word. Ek moet my van alle ondeug en boosheid bekeer en die ou, sondige natuur oorlewer om gekruisig te word. Ek moet die Here vertrou om my hart en lewe deur die bloed van die Lam te reinig en my met sy Heilige Gees te vervul. Hierna begin ’n lewenslange proses van groei in heiligheid, waarin ek met volharding vrugte vir die koninkryk van God moet dra. In die gelykenis van die saaier sê die Here Jesus: “En [die saad] wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ’n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Luk. 8:15).
Wanneer jou hart gereinig is en ook deur die Heilige Gees met die liefde van Christus gevul is, kan jy die Here aktief begin dien. Hy waarsku jou egter dat dit nie maklik sal wees nie, omdat jy Hom onder moeilike en veeleisende omstandighede sal moet dien. Dit sal beslis volharding van jou verg.
Die Here Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Dit is ’n daaglikse proses van toewyding en hertoewyding aan die Here. Waarom moet die kruis van selfverloëning voortdurend opgeneem word? Die vlees moet gekruisig bly, want hy soek geleentheid om van die kruis af te kom, te herleef en weer beheer oor jou lewe te verkry. Indien jy aan hom hierdie geleentheid bied, sal hy die Gees se werking in jou lewe teëstaan en jou weer na die wêreld begin terugtrek. Die Galásiërs het hulle hieraan skuldig gemaak (Gal. 3:1-3). Ongehoorsaamheid aan die Here se Woord het onder hulle ingetree, omdat hulle geluister het na vals profete wat leuens verkondig.
Behalwe die mens se eie neiging tot ongehoorsaamheid, is daar ook verskeie eksterne faktore wat jou van die pad van heiligmaking en toewyding aan die Here kan aftrek. Verkeerde vriende wat nie vaste beginsels en Skrifgetroue oortuigings het nie, is een van die belangrike redes waarom sekere Christene weer begin wankel en die pad byster raak. Petrus sê: “Geliefdes, julle moet op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Pet. 3:17). Die oplossing hiervoor, sê Petrus, is om in die genade en kennis van Christus toe te neem en vas te staan in die geloof (2 Pet. 3:18).
Moet nooit toelaat dat verkeerde vriende of vals profete wat leuens verkondig, jou Christelike getuienis vernietig nie. Paulus sê vir die Kolossense: “Julle [moet] gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:23). Volharding is op die pad van die Here nodig. Paulus sê vir die Hebreërs: “Ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14; vgl. 3:6). Ons moet onsself hiertoe verbind.
Timótheüs kry ook die opdrag tot volharding. Paulus sê hy moet “aan die geloof en ’n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Paulus noem een van hierdie geestelike skipbreukelinge se naam, nl. Himenéüs, en sê van sulke mense: “Hulle woord sal voortwoeker soos ’n kanker ... [Hulle] het van die waarheid afgedwaal omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het, en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:17-18). Daar is ook vandag baie teoloë wat dwalings oor die opstanding van Christus én die regverdiges verkondig en sodoende die geloof van baie mense omkeer. Nie almal volhard tot die einde toe op die regte pad nie!
In Lukas 15 word die hele hoofstuk daaraan gewy om ons plig ten opsigte van afgedwaalde gelowiges deur middel van drie gelykenisse te beklemtoon: die verlore skaap, die verlore penning, en die verlore seun. Al drie moet gesoek en teruggebring word waar hulle hoort. Die verlore seun is oorkom deur liefde vir die wêreld, soos ook die geval was met Paulus se vriend, Demas (2 Tim. 4:10). Die verlore seun het die rug op sy vader gedraai en die verhouding tussen hulle verbreek. Hy het egter op sy dwaalweë tot besinning gekom toe dit in ’n stadium baie sleg met hom gegaan het. Toe hy teruggekom het huis toe en die ouer broer ontsteld was omdat sy vader so ’n ophef van sy jonger broer se herstel gemaak het, het die vader gesê: “Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32).
Tydens sy afdwalinge was die jonger broer dood in sy sonde en misdade, maar hy het weer lewendig geword, soos wat hy aan die begin was. Hy het deur sy eie toedoen verlore geraak, maar is geestelik ten volle herstel. Volgens Lukas 15 moet daar ’n bediening onder teruggevallenes wees. Hulle moenie maar net aan hulle eie lot oorgelaat en deur die gemeente afgeskryf word nie. Dit is vir die Here só belangrik dat alles in werking gestel moet word om daardie een verlore skaap op te spoor en weer by die kudde te voeg.
Wat doen jy met mense wat geestelik struikel? Verwerp en beskuldig jy hulle? Paulus se opdrag is dat hulle in ’n gees van sagmoedigheid reggehelp moet word (Gal. 6:1). Afvalliges moet met liefde, maar ook op ’n baie reguit en ernstige manier, vermaan word. Sonde het die vermoë om die geloof in mense se harte aan te val en te verswak. As hierdie proses nie gekeer word nie, kan hulle dalk in ongeloof verval en geestelik heeltemal verhard raak.
Ek was by geleentheid in Estland in die voormalige Sowjet-Unie waar ek onder andere in ’n evangeliese kerkie in Rakvere in die noorde van die land gepreek het. Die leraar het twee groepe gemeentelede gehad, die een Estniessprekend en die ander Russiessprekend. Dié betrokke oggend was daar ook ’n besoekende Sweedse sakeman in die kerk. Ná die oggenddiens was daar ’n gemeente-ete en hy het langs my kom sit. Hy kon goed Engels praat en het aan my vertel dat hy en sy gewese vrou lank in Kanada gebly het. Hulle was aktiewe Christene en lidmate van ’n gemeente in hulle tuisdorp.
Ná ’n tyd het daar ’n derde persoon in hulle huwelik gekom, hulle is geskei en sy vrou is saam met die ander man weg. As gevolg hiervan het hulle altwee geestelik verval en heeltemal van die Here, die kerk en die Christelike gemeenskap vervreem geraak. Hulle is terug in die wêreld en hy was baie verbitterd en ongelukkig, ook teenoor ander Christene wat openlik die rug op hom gekeer het. Ná ’n tyd het hy na ’n kasset geluister oor hoe die Here die teruggevallenes (backsliders) kan en wil herstel. Hy het soos die verlore seun na die Here teruggekom. Daarna het hy ook die kasset aan sy gewese vrou gestuur, maar sy het nie belanggestel nie en haarself heeltemal teen godsdiens verhard.
Hierdie man het toe aan my vertel hoedat die Here aan hom ’n bediening onder backsliders gegee het, soos hy dit gestel het. Op sy sakereise ontmoet hy baie sulke mense, en in die meeste gevalle steur ander gelowiges hulle nie aan die afvalliges nie. Hy sê Christene moet begrip daarvoor hê dat hierdie mense gewoonlik deur ernstige skokke, teleurstellings en trauma gegaan het, en dikwels selfs die Here daarvoor blameer. Daar moet weer hoop op herstel aan hulle gebied word. Volgens Hebreërs 12:14-15 het hulle veragter in die genade en het daar ’n wortel van bitterheid in hulle harte opgeskiet.
Die duiwel val hierdie teruggevallenes dikwels aan deur aan hulle te sê dat hulle onvergeeflike sondes gedoen het en nie weer deur die Here vergewe en aanvaar sal word nie. Dit is egter ’n leuen, want verreweg die meeste teruggevallenes het nie die Heilige Gees belaster en die bloed van Christus geminag deur dit doelbewus te vertrap en te verwerp, soos wat in die gevalle van Hebreërs 6 en 10 beskryf word nie. Hulle is, soos die verlore seun, deur versoekings en ongetemde emosies oorkom, of deur teleurstellings platgeslaan. Ons moet dit in ’n vroeë stadium raaksien as iemand begin dwaal en weer sonde doen – miskien wêreldse partytjies begin bywoon waar daar gedrink en oneerbare gesprekke gevoer word. Hulle moet ernstig vermaan word, omdat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak.
Die Hebreërs word só vermaan: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Ons gaan óf vooruit in ons geestelike lewe, óf ons stagneer en gaan weer agteruit. As ons nie geestelike groei na volwassenheid toon nie, kan ons ná ’n tyd selfs ons geloofsekerheid verloor en sal dan weer van voor af tot bekering moet kom. Die Hebreërs het hulle hieraan skuldig gemaak, daarom moes die fondament van bekering uit dooie werke opnuut in hulle lewens gelê word (Heb. 5:12–6:1).
Ons moet in ons geloofslewe groei en ten alle tye volhard in heiligheid. Ons moet veral seker maak dat ons nooit onbetrokke raak by die werk van die Here nie, want dan sal ons liefde teenoor Hom definitief afkoel. Ons almal het die opdrag om sy getuies te wees, en op een of ander manier moet ons daaraan uitvoering gee. ’n Boom word aan sy vrugte geken. As daar nie godsvrug in ons lewe is nie, voldoen ons glad nie aan ons roeping nie. Dit is om hierdie rede dat Paulus sê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Hy sê vir Timótheüs dat hy homself moet oefen in die godsaligheid” (1 Tim. 4:7). Vir die Galásiërs sê hy: “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9). Die duiwel wil hê ons moet die stryd gewonne gee.
Die dra van oorvloedige vrug sal net gebeur as ons waarlik in Christus bly, daagliks deur Hom gereinig word en deur sy Gees vervul word. In Engels word dit “the abiding life” genoem – ’n lewe wat voortdurend in Christus is. Die loot wat in Christus bly, word skoongemaak en gesnoei sodat dit baie vrug kan dra. Die loot wat nie in Hom bly nie, raak onvrugbaar en verdroog uiteindelik heeltemal. Sy voorland is die vuur. Johannes maak ’n groot saak van hierdie lewe in Christus. In sy sendbriewe noem hy dit dikwels, en wys op ons verpligting om ’n Christusgelykvormige lewe te lei: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6). As ons in Christus bly en sy gebod van die liefde bewaar, kan ons ook met vertroue na sy wederkoms uitsien: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).
In Openbaring noem Johannes die Christene wat op die weg van heiligmaking volhard, die oorwinnaars. Die Here Jesus sê vir hulle:
· “Aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:26). Die volharding van die heiliges is nodig om die Here se werke tot die einde toe te kan bewaar.
· “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5). Daar sal ongelukkig ook diegene wees wat nie oorwin het nie, maar die Woord van die Here tot hulle eie ondergang verander en verdraai het. Hulle sal volgens Openbaring 22:19 nie die Here se koninkryk beërf nie.
· “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon” (Op. 3:21). Hulle sal saam met Christus in sy vrederyk regeer.
· “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir my ’n seun wees” (Op. 21:7). Dit is belangrik hoe ons die wedloop begin, maar ook net so belangrik hoe ons dit klaarmaak.
“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1-4).
Laat ons op die pad van die Here volhard en nie alleen die sonde aflê wat ons so maklik omring nie, maar ook die laste wat nie in sigself sonde is nie – dié dinge wat ons tyd, geld en energie so in beslag neem dat ons nie heelhartig by die diens van die Here betrokke kan wees nie. Moenie deur teëstand afgeskrik word nie, want in hierdie bedeling volg ons die Christus wat deur die wêreld verwerp word. As ons egter saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word (Rom. 8:17). Paulus sê vir Timótheüs: “As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën” (2 Tim. 2:12). Die Here Jesus sê sy skape luister na sy stem en volg Hom (Joh. 10:27). Hulle sal nooit beskaamd staan nie, want hulle bly op die regte pad – in mooiweersdae, maar ook tydens beproewings en aanslae. Vertrou die Here om jou enduit van die Bose te bewaar.