1. Uiterste Geestelike Polarisasie
2. ʼn Boom wat Baie Vrugte Dra
3. Regverdigmaking en Heiligmaking
4. Bedieninge van die Heilige Gees
5. Die Vervulling van Petrus se Roeping
6. Op Pad na die Land van Belofte
Boodskappe oor geestelike groei en heiligmaking, deur Johan Malan
Mosselbaai, Suid-Afrika
September 2014
Skriflesing: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).
Baie Christene bid ernstig vir herlewing en die geestelike verdieping van gelowiges sodat die Here meer kan word in ons lewens, in ons gemeentes, en ook in die breër samelewing. In Openbaring 22:11-12 gee die Here Jesus vir ons ʼn aanduiding dat daar kort voor sy wederkoms wél so ʼn beweging na meer heiligheid sal wees, maar dat daar terselfdertyd groter geestelike verval en toenemende goddeloosheid in die wêreld sal intree. Hierdie geestelike en morele polarisasie is nou baie meer opsigtelik as voorheen: goddeloosheid neem ongekende afmetings aan, terwyl die geestelike standaard van heiligheid onder toegewyde kinders van die Here tot hoër hoogtes gevoer word, al is hulle in baie gevalle net ʼn klein minderheid.
Volgens die Bybel beweeg hierdie teenoorgestelde groepe na twee uiterste gebeurtenisse, naamlik enersyds die verskyning van Christus aan sy getroue dissipels, en andersyds die verskyning van die Antichris aan die geestelik misleide menigtes. Ons het dus hier te doen met die verdere polarisering tussen lig en duisternis, of die waarheid en die leuen. Die Here Jesus is die Lig van die wêreld, daarom is sy volgelinge wat besig is om in sy voetspore te volg, op ʼn pad van toenemende regverdigheid en heiligheid – dit is die smal pad, en aan die einde van hierdie pad sal ons in heerlikheid voor Hom verskyn. Hierteenoor staan die duiwel aan die hoof van die koninkryk van die duisternis, en hy is besig om die mensdom te mislei om ʼn valse Christus, die Antichris, na te volg – hulle is op die breë pad van ongeregtigheid en sonde, en aan die einde van dié pad sal die Antichris mag verkry oor die gevalle mensdom (Op. 13:7).
Hierdie twee weë het ʼn kennelike werklikheid geword in die wêreld ná die eerste koms van Jesus Christus. Voor daardie tyd het die duisternis van sonde en ongeregtigheid oor die hele aarde geheers, behalwe vir ʼn klein groepie gelowige Israeliete. Maar toe kom die Lam van God om versoening te doen vir sonde van alle mense, en daarna gee Hy aan sy dissipels opdrag dat bekering en vergewing van sonde in die hele wêreld verkondig moes word (Luk. 24:46-47). Mense moes uit die duisternis van hulle sondige verlede oorkom na Christus se wonderbare lig.
In alle gemeenskappe waar die evangelie verkondig is, het dit aanleiding gegee tot polarisasie tussen lig en duisternis, m.a.w. tussen Christene en ongeredde wêreldlinge. Paulus sê vir gelowiges in Éfese: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Ef. 5:8). Om dit te kon doen, moes hulle standpunt inneem teen die werke van die duisternis en hulle sterk daarteen uitspreek: “... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Dit het tot ʼn groot mate van antagonisme tussen die kinders van die lig en die kinders van die duisternis gelei, want daar kan geen gemeenskap wees tussen Christus en die afgode nie (2 Kor. 6:14-18).
Soos wat die lig meer geword het, het die teëstand uit die koninkryk van die duisternis ook hewiger geraak. Die sendingopdrag na alle nasies is oor baie eeue heen uitgevoer, en tans is die twee paaie van lig en duisternis in omtrent alle gemeenskappe op aarde gevestig. Die breë pad dra egter nog steeds die meeste verkeer, en terwyl die sonde in intensiteit toeneem, word die druk op Christene ook groter – in sekere lande baie erger as in ander. Die Here gee egter aan ons meer genade om ten spyte van hierdie druk op die pad van toenemende heiligheid te volhard en steeds vordering daarop te maak: “... waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20).
Daar is ʼn baie werklike en ernstige rede waarom ons in die eindtyd op die pad van groter regverdigheid en heiligheid moet volhard, en dit is omdat die aanslag op ons geestelike lewe besig is om hewiger te raak. As daar nie groter waaksaamheid en toewyding by ons aanwesig is nie, sal ons stadig maar seker geestelik begin verkoel en veragter in die genade. Die Here Jesus verwys in sy profetiese rede na die toenemende boosheid van die eindtydse wêreld, en waarsku lou en kompromiemakende Christene soos volg: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Daar sal nie plek wees vir passiewe, vleeslike en onbetrokke meelopers nie. Hulle sal ernstige selfondersoek en hertoewyding aan die Here moet doen as hulle geestelik staande wil bly in hierdie veeleisende tye.
Daar is egter nog ʼn groter motivering vir toenemende heiligheid, en dit is om onberispelik in heiligheid te wees wanneer ons voor die hemelse Bruidegom verskyn. Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? ... [B]eywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11, 14). Paulus doen ʼn soortgelyke beroep op die Thessalonisense: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Volkome heiligmaking dui onteenseglik op hoër hoogtes waarna ons moet streef in ons geestelike lewe en verhouding met die Here Jesus, want dit sal verseker dat ons nie beskaamd sal staan op die dag van sy wederkoms nie.
Christus vestig ook in sy profetiese rede aandag op die geestelike waardigheid wat deur heiligmaking geskep word: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hy sê nie dat ons net hoef te glo en dan kan terugsit sonder om verder aan ons verhouding met Hom te werk nie; nee, ons moet waak teen die vyand se aanvalle, teen geestelike misleiding, en ook waak ter wille van meer gebed: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41). Só sal ons verseker dat ons nie, soos die dwase maagde, op ʼn kritieke oomblik aan die slaap raak en totaal onbewus sal wees van die feit dat ons gevaarlik min van die olie van die Heilige Gees in ons lampe het nie. Ons het ʼn besliste opdrag om vervul te word met die Heilige Gees (Ef. 5:18) sodat ons die Here in alles kan behaag.
Verder is toenemende regverdigheid en heiligheid ook in belang van die kwaliteit van ons dienswerk as dissipels van Jesus. Sy oproep hiertoe in Openbaring 22 word direk in verband gebring met ons verskyning voor sy regterstoel om rekenskap van ons lewe as dissipels te gee: “[K]yk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Sommige dissipels verdien met hulle pond, wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, tien ponde, ander vyf, en nog ander sal daar staan met leë hande – gered asof deur vuur heen (vgl. Luk. 19:12-24; 1 Kor. 3:15). Ons moenie met minimum standaarde in ons geestelike lewe tevrede wees nie, maar streef na meer heiligheid en groter diensbaarheid. Daar is potensiaal om dertig-, sestig- en selfs honderdvoudig vrug te dra as die saad van die Woord in jou hart gesaai is (Matt. 13:23). Lewer jou lewe vrug op en sal jy met vrymoedigheid rekenskap van jou roeping as getuie van Christus kan gee?
Wat die sondaars en hulle bose werke betref, is daar ʼn toename in goddeloosheid wat besig is om op te bou tot by die punt waar hulle die Antichris met ope arms sal ontvang. Die wêreld is in ʼn gevorderde stadium van geestelike en morele verval, soos waargeneem kan word in die feit dat die sataniese leerstelling van ʼn multigodsdienstige messias vir alle gelowe besig is om oral pos te vat, ook onder misleide Christene: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hierdie mense het onder die invloed van valse leerstellings gekom, en in die proses het baie van hulle die suiwer geloof prysgegee (Eng.: “they departed from the faith”).
Paulus sê ook: “... want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Wanneer die wêreld deur geestelike misleiding gekondisioneer is om Satan se “mens van sonde” in die plek van Christus as wêreldmessias te aanvaar en ook te aanbid, sal die einde van die kerkbedeling spoedig aanbreek, waarna die dwalendes aan die mag van hierdie misleier oorgegee sal word. Hulle sal hom spontaan aanvaar, navolg en ook aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan ... en die dier aanbid” (Op. 13:3, 4).
Die finale punt in die polarisasie tussen lig en duisternis sal aanbreek wanneer Christus aan die einde van die groot verdrukking na die aarde terugkeer om die Antichris en sy magte te oordeel. Johannes sê: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Op. 19:19). Hierdie konfrontasie sal lei tot die slag van Armagéddon, waar die Antichris en sy magte verdelg sal word. Christus se koninkryk van die lig sal dan sonder enige verdere teëstand op die aarde gevestig word.
Hierdie punt is nog nie bereik nie; daarom is ons nog in die hitte van die stryd. Dit is nodig dat ons geestelik toegerus sal wees vir dit wat voorlê, daarom is daar ʼn paar indringende vrae wat aan elke gelowige gevra moet vra: “Hoedanig is jou verhouding met die Here Jesus? Hoe vaar jy geestelik te midde van die verskerpende polarisasie tussen lig en duisternis? Is jy een van die teëhouers van die Antichris wat besig is om die goeie stryd van die geloof te stry en teen die toenemende dwalings van ons tyd te waarsku? Neem jy heiligmaking ernstig op en is jy met die Heilige Gees vervul? Het jy ʼn sterk verwagting op Christus se koms en is jy gereed daarvoor?” Indien jy gereed en goed voorbereid is, sal jy nie met leë hande voor Hom verskyn nie, maar waardig wees om ʼn mede-erfgenaam van sy ewige koninkryk te wees.
Daar is baie op die spel in ons geestelike lewe, maar ons hoogste doelstelling moet altyd die eer van die Here en die uitbreiding van sy koninkryk wees. As ons die kruisweg volg en saam met Hom ly in die voortgaande stryd teen ʼn goddelose wêreld, sal ons nie slegs vandag die vrede van God in ons harte hê wat alle verstand te bowe gaan nie (Fil. 4:7), maar ook eendag in sy onuitspreeklike heerlikheid deel. Ons het alle rede om vas te staan in die Here en nie te eindig in die geledere van diegene wie se liefde te midde van die toenemende boosheid in die wêreld verkoel het nie. Sulke mense onderskat die eise van die verskerpende polarisasie tussen lig en duisternis, en hulle sal ʼn duur prys daarvoor betaal.
Ons moet tot die einde toe op die smal pad volhard en toesien dat ons nie deur die sielevyand beroof en geestelik verarm word nie. Hiertoe spoor die Here Jesus ons in die lig van sy naderende wederkoms aan: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Hy moedig ook ʼn ander gemeente op ʼn soortgelyke wyse aan: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Hy wil hê dat elkeen van sy dissipels onder die oorwinnaars sal eindig.
As ons absoluut verbind is tot die beginsel van meer heiligheid in ons lewe en dit werklik met erns nastreef, sal die vrug daarvan duidelik in ons lewens sigbaar word (vgl. Rom. 6:22). In Hallelujalied 314 word die seën van ʼn geheiligde lewe só beskryf:
Meer heiligheid gee my,
meer gloed in my hart,
meer troos in beproewing,
oor sonde meer smart!
Meer steun op my Heiland,
meer trou op Hom let,
meer vreugde in arbeid,
meer krag in gebed!
Skriflesing: ʼn Man wie se behae in die Woord van die Here is, “sal wees soos ʼn boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps. 1:3).
“Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ʼn boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ʼn jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).
ʼn Christen word vergelyk met ʼn vrugteboom wat by ʼn waterstroom geplant is. Dit is baie duidelik wat die rede vir hierdie boom se sukses is – dit is nie in homself geleë nie, maar in die feit dat hy in die verborgene, diep onder die grond waar niemand kan sien nie, sy wortels uitgeskiet het tot in ’n stroom. Dit is die rede waarom droogtes, hitte en moeilike uiterlike omstandighede hom nie kan vernietig nie. Sy blare bly groen en sy voortbestaan is ten alle tye seker en gewis. Dit is ook die geheim van ’n toegewyde Christen – hy is soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nooit verwelk nie.
Die waterstroom verwys na die Here Jesus, na reiniging deur sy bloed en na sy voortdurende, lewegewende krag wat deur die Heilige Gees na ons toe vloei. Dié water les ons geestelike dors, stel ons in staat om vrugte te dra wat by die bekering pas, en gee aan ons krag om sterk te word in die Here en oor al die aanslae teen ons te oorwin. Die lewe en versterking wat ons uit hierdie stroom kry, is ewigdurend. Jesus het vir die vrou by die put gesê: “[E]lkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ʼn fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh. 4:14).
Die genade van Jesus Christus vir redding is gratis tot die beskikking van enigeen wat bereid is om dit in die geloof aan te neem. Wanneer ons ons geestelike dors besef, moet ons net na Hom toe gaan sodat Hy ons van sonde kan reinig, ons siele kan verkwik en ons met sy Heilige Gees vervul. Sy uitnodiging word aan almal gerig: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39). Aan die einde van Openbaring herhaal Hy weer sy aanbod van vrye genade: “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:6).
Word jou lewe ook deur die verborge kragbron van die Here Jesus se genadewerk gekenmerk? Dan sal jy daarbuite in ’n agnostiese en vyandige wêreld vas staan vir jou oortuigings. Selfs al is daar ʼn geestelike droogte in die wêreld waarin duisende mense van die geloof afvallig raak, sal jy self nooit deel van die probleem word nie. Jeremia sê die boom wat by die waterstroom geplant is, “vrees [nie] as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ʼn jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:8).
In die natuur kry ons ’n praktiese demonstrasie van só ’n lewe. Die witstamboom (Boscia albitrunca) is ʼn beskermde immergroen boom wat in groot gebiede van Suidelike Afrika voorkom – ook in die heel droogste Kalahari- en semi-woestyngebiede. Ongeag veranderende weersomstandighede bly dié boom altyd groen, ook in die ergste droogtetye. Die geheim is dat sy wortels baie diep onder die grond indring totdat dit ʼn onderaardse wateraar bereik. Dit is die boom met die diepste wortelstelsel waarvan ons weet, en daar is in die Kalahari een aangetref waarvan die wortels 68 meter diep ingedring het totdat dit by water uitgekom het. Wanneer daar ernstige droogtes en hitte kom en die ander bome rondom hierdie boom kwyn en selfs doodgaan, bly die Boscia albitrunca groen. Daar word dikwels van sy takke afgekap sodat die blare as veevoer kan dien wanneer dit baie droog is en daar geen ander voer vir die vee is nie.
Ons moet ook diepte in ons geestelike lewe hê en onafgebroke in verbinding bly met die fontein van lewende water, dan sal ons nooit geestelik verdroog en ’n slagoffer van allerlei negatiewe omstandighede word nie. Ons geloof moet deur ons verhouding met die Here Jesus bepaal word en nie deur uiterlike omstandighede in die wêreld, of deur ander mense se wisselende opinies nie. Dit is waarom Paulus kon sê, selfs toe hy hom in die moeilikste denkbare omstandighede bevind het: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:7). Hy het nie ondergegaan in die stryd nie, al het hy as ʼn martelaar vir sy geloof in Rome gesterf. Sy geloof het nie opgehou nie maar is inteendeel versterk, en hy het die bediening wat hy van die Here ontvang het, voltooi. Die Here was sy krag en sterkte, en dit het hom deur elke krisis gedra – hoe bomenslik die uitdagings ook al was.
Die belangrikste voorwaarde vir sukses in ons geestelike lewe is om in noue kontak met Jesus Christus te bly. Die verbindingskanaal na Hom moet altyd oop wees. Jesus het sy dissipels voorberei om in ʼn vyandige wêreld geestelik sterk te staan en deurgaans oorvloedige vrug te dra. Die voorwaarde hiervoor is om altyd in Hom te bly (Eng.: the abiding life). Hy het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:4-5).
Die beeld van die boom wat sy vrugte gee op sy tyd, vestig die aandag op die feit dat die Here vrugte in ons lewens verwag. Dit dui egter nie op menslike werke wat ons uit eie krag vír Hom doen nie, maar op die vrug van die Heilige Gees – m.a.w. werke wat Hy déúr ons doen. Voordat dit sal gebeur, moet ons hele persoonlikheid en karakter eers deur die Heilige Gees verander word, sodat ons die regte ingesteldheid sal hê om die Here te kan behaag. Wanneer ons motiewe suiwer is, sal die Here deur ons werk en ʼn groot doel met ons lewe bereik. Die gesindhede en lewensbeginsels wat die Here in ons harte wil vestig, word beskryf as die vrugte van die Heilige Gees: “[D]ie vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22).
Hierdie beginsels bepaal die diepste begeertes van ʼn persoon se hart, dit skep die waardes wat hy nastreef, en beïnvloed sy hele lewenswandel asook die aard van sy optrede na buite. Die nege vrugte van die Gees is duidelik verdeelbaar in drie groepe, wat ʼn uitbeelding is van die gelowige se ingesteldhede en verhoudings op drie vlakke. Die eerste drie beskryf die gesindhede wat jou verhouding met God kenmerk, die volgende drie bepaal die aard van jou verhouding met jou medemens, en die laaste drie is ʼn beskrywing van jou persoonlike karaktertrekke.
Die eerste drie vrugte is liefde, blydskap en vrede. God is liefde. Tydens en ná jou wedergeboorte word sy liefde deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Rom. 5:5). Jy word daarin gewortel en gegrond en dit word deel van jou hele lewe. Jy het die Here innig lief omdat Hy jou siel gered en jou as sy kind aangeneem het. Jy is nie meer in rebellie teen Hom weens jou sonde nie, daarom minag, belaster en vermy jy Hom nie meer nie. Inteendeel – jy soek sy teenwoordigheid op, besing sy lof, eer Hom en roep sy Naam aan. Daar is ʼn groot blydskap in jou hart oor wat die Here Jesus reeds vir jou gedoen het toe Hy jou naam in die boek van die lewe geskryf het, en wat Hy in die eeue hierna nog vir jou gáán doen. Onder alle omstandighede, selfs in tye van droefheid en beproewing, verbly jy jou in die Here en strek jou uit na ʼn wonderlike nuwe toekoms. In jou hart is daar ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, want die Here Jesus is jou vrede. Hy het gesê: “[M]y vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Sy vrede is ʼn diep, innerlike wete dat jou sonde vergewe is omdat jy met God versoen is. Jy hoef niks te vrees nie omdat jy nie in die oordeel van sondaars gaan kom nie. Jy weet ook dat geen vyandige magte, benoudheid, vervolging of enige probleme en aanslae jou ooit sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:35-39).
Hierdie eerste drie vrugte, naamlik liefde, blydskap en vrede teenoor God, moet ook in aksie gestel word in jou verhouding met ander mense. Dit is presies wat gebeur wanneer God se agape-liefde wat uitreik na ʼn wêreld in sy nood, jou hart en gedagtes vervul met die kenmerkende vrugte van die tweede groep, naamlik lankmoedigheid, vriendelikheid en goedheid. Jy is nie meer haatdraend en veroordelend nie, maar lankmoedig teenoor mense. Jy kry hulle jammer en bid vir hulle redding, selfs jare lank, sonder om moedeloos te word en hulle af te skryf. Jy is ʼn vriendelike en gasvrye mens wat nie net vir jouself lewe nie, maar tyd het vir ander en ook na hulle uitreik. Jy doen goed aan hulle deur die evangelie met hulle te deel, en ook te doen wat jy kan om in hulle tydelike nood te voorsien. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).
Die derde groep vrugte, naamlik getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, is persoonlike karaktertrekke wat jy met die Heilige Gees se hulp en deur selfdissipline ontwikkel. Jy is getrou in al jou verantwoordelikhede, bowe-al in jou stiltetye, en nie ʼn agtelosige en gedisorganiseerde mens wat jou pligte versuim nie. Jy is ook sagmoedig, wat beteken dat jy ʼn sagte gemoed het. Jy is nie hard en ongenaakbaar nie, maar ʼn meelewende mens wat vol deernis is vir ander in hulle nood en probleme. Sagmoedigheid beteken ook dat jy nie ʼn onbuigsame en hardvogtige hart het wat hom teen die Here se Woord verhard nie. Jy het ʼn leerbare gees en laat jou deur die Woord van die Here én deur ander mense vermaan. Laastens beskik jy deur die Here se genade ook oor selfbeheersing. Dit beteken dat jy nie impulsiewe dinge doen of sê waaroor jy later verskoning hoef te vra nie. Jy sê nie in ʼn oomblik van drif lelike dinge wat uit ʼn ongekruisigde vlees kom nie, want dit is beslis nie die vrug van die Gees nie. Hoe ken mense jou in die alledaagse lewe? Salomo sê: “Die lankmoedige is beter as ʼn held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ʼn stad inneem. … Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ʼn man van verstand” (Spr. 16:32; 17:27). In die Nuwe Testament word hierdie kosbare gesindheid, saam met die ander wat genoem is, as die vrugte van die Heilige Gees beskryf. Jy het die Here se genade nodig om die vrugte van die Gees in jou lewe te kan vertoon, omdat dit nie in eie krag verkry word nie, maar deel is van die natuur van Christus waarmee ons beklee moet word. “Beklee julle met die Here Jesus Christus” (Rom. 13:14; vgl. Gal. 3:27).
Is dit ʼn beskrywing van jou lewe as Christen? Indien nie, bely die feit dat jy die Heilige Gees so dikwels deur jou gedagtes, begeertes, gesindhede, woorde en dade bedroef. Maak die saak met die Here reg en onderwerp jou volkome aan die gesag van die inwonende Gees van God. Hy sal jou in die weë van geregtigheid lei. Wanneer hierdie verhouding reg is, dan is jy soos die boom wat sy wortels uitskiet na die stroom. Jy bly in Christus, en sy Heilige Gees vervul en beheer jou lewe. Wanneer hierdie verhouding versteur word, sal die Heilige Gees jou oortuig van enige verkeerde gesindheid, voorneme of optrede in jou lewe. Stel die saak dadelik reg deur gebed en belydenis, sodat jy onafgebroke vrugte kan dra wat by die bekering pas.
Om deur die Heilige Gees vervul te word en versadig te word by die fontein van lewende water, is nie slegs ʼn eenmalige ondervinding in ʼn Christen se lewe nie, want dit moet dikwels tydens krisistye hernuwe word. Die dissipels wat in Handelinge 2 deur die Heilige Gees vervul is met krag uit die hoogte, is in Handelinge 4:29-31 en Handelinge 13:50-52 opnuut met die Heilige Gees vervul. Telkens wanneer daar ʼn groot krisis en hewige vyandigheid was, het hulle ernstig tot die Here geroep en Hy het opnuut hulle geloof versterk en aan hulle vrymoedigheid gegee om met hulle taak van evangelisasie voort te gaan.
Soms is daar sonde en vleeslikheid in ʼn mens se lewe wat jou verhouding met die Here versteur. Dit veroorsaak ʼn blokkasie sodat die stroom van lewende water nie meer vryelik deur jou na ander kan vloei nie. Verootmoediging en selfondersoek is nodig om die probleem te identifiseer en uit te skakel. Bid saam met Dawid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24). ʼn Weg van smarte is ʼn weg van sonde. Volgens die Engelse weergawe sê die Psalmis: “And see if there is any wicked way in me.” Die teruggevallene moet van hierdie verkeerde afdraaipad af teruggelei word na die Here se pad van geregtigheid, dan sal daar opnuut godsvrug in sy lewe wees. Sy gebroke verhouding met die Here moet herstel word.
Israel het ná hulle uittog uit Egipte by Ráfidim in die woestyn aangekom, waar die dors hulle oorval het. Moses het die rots geslaan, dit het oopgebreek en ʼn stroom water het daaruit gevloei sodat die hele volk daarvan kon drink. Die gekliefde rots was ʼn simboliese heenwysing na Christus wat geslaan en gekruisig is sodat die stroom van God se genade deur Hom na ons kon vloei. Paulus sê Israel “het gedrink uit ʼn geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor. 10:4). Soos wat Israel by die gekliefde rots neergebuig het om te drink, kan ons dit ook doen: “Ewige Rots geklief vir my, laat my veilig by U bly ... .”
Selfverootmoediging gaan met toegewyde gebed gepaard. Ons het nie omdat ons nie bid nie (Jak. 4:2). As ons in die gebed neerbuig by die gekliefde Rots, sal ons tye van verkwikking voor die Here se aangesig hê. Die Here sal Homself aan ons openbaar, ons van alle ongeregtigheid reinig en aan ons krag tot oorwinning skenk. Dawid het in ʼn gebed aan die Here gesê: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Ps. 16:11).
Om in Christus te bly, voortdurend te drink uit die stroom van sy genade en daagliks in die lig van sy aangesig te wandel, vereis dat ons Hom goed sal ken. Ons moet presies weet wie en wat Hy is, want ʼn vae en onvolledige kennis van Hom kan nie die grondslag vir ʼn hegte verhouding wees nie. Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, Godheid en heerlikheid sal ken en voor die wêreld sal bely. As gevolg van baie mense se gebrekkige kennis bely hulle in werklikheid ʼn “ander Jesus” wat vreemd is aan die Skrifte. Volgens Paulus is onkunde en skewe sienings die gevolg van demoniese misleiding: “Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4). Sulke mense dink hulle word uit die fontein van lewende water gevoed, maar dit wat hulle sê en doen is veel eerder afkomstig van die gees van dwaling.
Dit is in die kerk van Christus gebruiklik om by sekere geleenthede ʼn Christelike geloofsbelydenis af te lees. Belydenisse van hierdie aard is egter meestal so kort, gebrekkig en onvolledig dat dit nie reg laat geskied aan die Persoon en basiese attribute van die wonderlike Verlosser wat ons dien nie. As gevolg hiervan het baie mense glad nie ʼn goeie begrip van die Here Jesus nie. Die volgende is ʼn meer volledige evangeliese belydenis:
· Jesus het uit die hemel neergedaal om mens te word. Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Met sy geboorte uit die geslag van Dawid en tydens sy lewenswandel op aarde het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê, maar nie van sy wesenlike Godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ’n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).
· Hy is God. Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê Hy “is die grote God en ons Verlosser” (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God!” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Immánuel – God met ons.
· Sy ewige selfbestaan. Ek glo dat die Here Jesus ’n ewige selfbestaan het as God. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “[V]oordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “[A]s julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
· Die Drie-eenheid. Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “... daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. ... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh. 1:1, 14).
· Mede-skepper. Ek glo dat die Here Jesus, die Woord, die Skepper is wat saam met die Vader en die Heilige Gees die wêreld en die heelal geskape het (Heb. 1:2). “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is” (Kol. 1:15-16).
· Die Herskepper van alle dinge. Ek glo dat die Here Jesus ook die Herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:5).
· Sy soendood en Middelaarskap. Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ’n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Slegs diegene wat die genadeaanbod van verlossing in die geloof aanvaar, word deelgenote van die nuwe lewe in Christus. Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).
· Sy wederkoms. Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons vandag saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ’n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel.
Kan u sien hoe kosbaar en Goddelik is die fontein van lewende water wat vryelik tot ons beskikking gestel word? In die heel laaste hoofstuk van die Bybel word die vriendelike uitnodiging aan alle geestelik sterwende mense herhaal om uit hierdie fontein te kom drink: “[L]aat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17).
Ons moet nooit hierdie fontein verlaat nie, want die Here sê ons moet soos bome wees wat by ʼn waterstroom geplant is. Daar, in die skadu van die kruis digby die gekliefde Rots, moet ons hele lewe gelei word. Om van ons Verlosser af weg te dwaal en nie in Hom te bly nie, is soos om op duistere dwaalweë te wandel waar jy gou deur ʼn geestelike dors oorval sal word. Om egter naby aan Hom en in Hom te bly, is lewe en oorvloed van lewe. Die stroom van lewende water moet in ons eie harte opborrel sodat ons met die genade van Christus en die boodskap van verlossing na ʼn sterwende wêreld kan uitreik.
Skriflesing: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ʼn bekwame boumeester die fondament gelê, en ʼn ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:9-16).
Paulus gebruik die gelykenis van ’n huis wat opgerig word om die twee basiese aspekte van ons geestelike lewe uit te beeld, naamlik regverdigmaking en heiligmaking. Die fondament is absoluut uniek en noodsaaklik: “Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11). Hy is die rots waarop ’n verstandige persoon se lewe gebou is (Matt. 7:24), daarom word hierdie rots ook “die fondament ... van die bekering” genoem (Heb. 6:1). Dawid het in die Ou Testament al na die Here verwys as sy rots en sy redder (2 Sam. 22:2).
Wanneer Paulus sê dat hy die fondament gelê het, praat hy van mense wat gelei is om hulle te bekeer tot redding in Christus. Ons moet ons geloof stel in Christus ons Verlosser deur wie ons ’n nuwe, weergebore lewe verkry; dit is ons regverdigmaking. Die verdere opbou van die huis daarná verwys na ons heiligmaking, en die instaatstellende krag van die Heilige Gees vir toewyding en diens aan die Here. Dit is op hierdie terrein dat dinge soms lelik skeef kan loop en sekere Christene as mislukte dissipels met leë hande voor Christus se regterstoel kan verskyn – wel gered maar ook niks meer as net dit nie.
Regverdigmaking is ʼn genadewerk wat alleenlik die Here Jesus vir ons kan doen. Paulus sê toe ons nog sondaars was, is ons met God versoen deur die dood van sy Seun (Rom. 5:10). Dit is ʼn volmaakte verlossing wat ons net moet glo en aanneem, en dit lei na wedergeboorte. Die nuwe lewe wat ons van Christus ontvang, kan beskryf word as toegerekende geregtigheid omdat dit deur genade aan ons geskenk word sonder enige werke of meriete aan ons kant. Al wat die Here Jesus van ons verwag, is om op die pad van sonde om te draai, ons sondes te bely en Hom as Verlosser aan te neem – dan is die fondament van die bekering en die nuwe lewe gelê.
Ons moet egter nie by hierdie stap berus nie, maar dadelik voortgaan om aan ons nuwe lewe te werk en heiligmaking na te jaag: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God” (Heb. 6:1). Daar moet vordering wees in ons geestelike lewe, en ons moenie so ʼn halfhartige begin maak dat ons elke keer weer van voor af die fondament van bekering wil lê nie. Ons moet voortgaan om die hoë roeping van God vir ons lewe te verwesenlik.
Elke geredde persoon het die opdrag om heilig te leef en God te behaag in alles wat hy doen: “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Dit is ʼn opdrag waaraan alle Christene ná hulle bekering uitvoering moet gee, daarom is hierdie fase van ons lewe geleë op die vlak van meewerkende geregtigheid: “Want ons is medewerkers van God” (1 Kor. 3:9). Ons moet ons volle samewerking gee om God se plan met ons lewe te laat uitwerk.
Hierdie verpligting beteken hoegenaamd nie dat ons die Here bloot deur ons eie menslike werke probeer dien nie. Nee, ons kan nie onsself heilig en uit ons eie krag waarlik die Here dien nie, al dink ons ook ons kan. Net die Here kan ons harte reinig en met sy Heilige Gees vervul. Hierdie ondervinding word as volkome heiligmaking beskryf, teenoor die aanvanklike heiligmaking wat ons tydens die eerste reiniging van ons sondes ontvang (2 Pet. 1:9). Paulus sê oor die tweede ondervinding: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).
Om hierdie seën te kan ontvang, moet ons eers alles bely en aflê waarvan die Heilige Gees ons oortuig, insluitend die vleeslike toestand waarin ons steeds ná bekering verkeer. Die ou, sondige natuur van die mens is deur die mag van die gewoonte gevestig, en dit staan teenoor die Heilige Gees wat ons wederbaar het: “[W]ant die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Indien ons nie ʼn volle oorgawe doen sodat die oorheersing van die vlees en sy hartstogte oorwin kan word nie, sal ons voortdurend met hout, hooi en stoppels op die fondament van bekering bou. Daar word dus in die proses van heiligmaking van ons verwag om die oue mens wat reeds in beginsel tydens bekering afgelê is, maar wat steeds ʼn groot mate van beheer oor ons behou, ten volle af te lê sodat dit gekruisig en oorwin kan word.
Paulus sê vir geredde lede van die gemeente in Éfese: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ʼn woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Ef. 4:22-30).
Christene kan inderdaad die Heilige Gees bedroef as hulle aanhou om die vlees en sy sondige neigings in hulle harte te beskerm en toe te laat om voort te bestaan. Hulle moet besef dat hulle nie volledig met die nuwe natuur van Christus beklee sal word voordat hulle alle geestelike hindernisse afgelê het nie. Elke persoon het sy eie neigings en swakhede, en die inwonende Heilige Gees sal hom daarvan oortuig. In Paulus se verduideliking aan die Efésiërs word ʼn hele aantal tipiese sondes by die naam genoem. Hy gee ook dieselfde lering aan die Kolossense, en wys daarop dat die sondes wat hulle tydens bekering bely en afgelê het, tydens die volle oorgawe aangevul moet word deur die aflegging van oorblywende sondes in hulle lewe, sodat die Heilige Gees volle beheer oor hulle kan verkry. Hy sê vir hulle:
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. [Dit was voor julle bekering]. Maar nou [nadat julle gered is] moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:5-10).
Daar was van die herlewingspredikers soos Finney wat voorgestel het dat ons hierdie probleem baie prakties moet benader deur ʼn lys te maak van al die sondes, swakhede en probleme waarvan die Heilige Gees ons oortuig. Werk dan deur daardie lys en maak die saak met die Here uit. Versoen jou ook met mense vir wie jy dalk op enige wyse benadeel het. Vergewe ook mense wat jou benadeel het, want sodoende kan jy die kwaad deur die goeie oorwin.
Kan u sien dat ons by ʼn volle oorgawe opnuut ʼn eerlike selfondersoek moet doen en absoluut alles moet aflê waardeur die Heilige Gees bedroef word? Hiersonder sal heiligmaking nooit ʼn werklikheid word in ons lewe nie. Ons het wel die belofte van heiligmaking, maar ons moet die omstandighede in ons lewe skep wat dit vir God regmatig sal maak om hierdie beloftes te vervul: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Eers vind hartsreiniging plaas, dan sal die Gees van God ons vervul en beheer.
Wat die proses van heiligmaking ná ʼn volle oorgawe betref, moet ons besef dat ons by ʼn lewenslange groeiproses na meer heiligheid en groter Christusgelykvormigheid betrokke is. Ons sal nooit die ideaal van volmaaktheid bereik nie, maar ons moet nogtans daarna streef. Paulus sê hy jaag na die volmaaktheid asof hy dit ook kan gryp, omdat hy ook deur Christus Jesus gegryp is (Fil. 3:12). Verder moet ons ook rekening hou met die feit dat solank ons in ʼn menslike liggaam is, daar altyd die moontlikheid van vleeslike optrede is. Hoewel ons nie meer in ʼn vleeslike staat is nie, kan ons nogtans versoek word om vleeslik op te tree en weens ons menslike swakheid te sondig.
Dit kan ʼn potensieel gevaarlike situasie van veragtering in die genade skep indien ʼn Geesvervulde Christen nalaat om sondes dadelik te bely en te laat staan, want dan verkry die vlees weer ʼn mate van beheer oor daardie persoon. Ons moet ook ernstig met mede-Christene praat indien ons sien dat een of ander sonde weer die oorhand oor hulle kry: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1). Ons moet elke dag ons kruis opneem waaraan ons vir die wêreld en die wêreld vir ons gekruisig word (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Op hierdie manier kan sorg gedra word dat ʼn gemeente kerngesond bly en waarlik ʼn instrument in die Here se hand is om die lig van die evangelie in ʼn donker wêreld te laat skyn.
Wat gebeur indien gelowiges nalaat om uitvoering aan die opdrag tot heiligmaking te gee? Dan laat hulle die sondige natuur van die vlees toe om voort te bestaan en hulle geestelik lam te lê. Die vlees sal die Gees teëstaan en veroorsaak dat die betrokke persone nooit geestelik opgroei nie, en ook nooit regtig die vrymoedigheid het om die Here te dien nie. Hulle sal inteendeel baie probleme in die gemeente skep, en dit is presies die beswaar wat Paulus teen die gemeente in Korinthe gehad het: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Hoe meer van hierdie onvolwasse, vleeslike Christene daar in ʼn gemeente is, hoe laer is die geestelike standaard en hoe groter die behoefte aan heiligmaking, herlewing en geestelike groei. Paulus se besorgdheid oor die geestelike toestand van die gemeente in Korinthe was baie groot. Hy het vir hulle gevra of hulle nie weet dat hulle ʼn tempel van God is waarin die Heilige Gees woon nie. Dit was met die oog hierop dat hy vir hulle gesê het dat elkeen moet oppas hoe hy op die fondament Jesus Christus bou – vleeslike lidmate wat met hout, hooi en stoppels bou, met ander woorde verganklike dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, sal bedroë voor die regterstoel van Christus verskyn – met leë hande, gered asof deur vuur heen.
Dr. Andrew Murray waarsku ook teen ʼn geestelik onvrugbare lewe in sy dagboek “Die Goddelike Geheim”. Hy sê: “So lank as wat ons onsself nie onder die leiding van die Heilige Gees stel nie, sal die vlees oor ons heers.” Dr. John Rice, ʼn voormalige Amerikaanse herlewingsprediker, het probleme in verband met vleeslikheid in verskeie gemeentes aangetref en die volgende oor die kern belangrikheid van heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees gesê:
“Om met die Heilige Gees vervul te word, is ʼn opdrag. Dit word nie aan jou eie oordeel oorgelaat of jy daaraan wil voldoen of nie. Elkeen wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, is buite die wil van God. Só ʼn persoon is ongehoorsaam en leef ʼn onvrugbare lewe. Die rede waarom jy nie siele wen nie, is omdat jy ongehoorsaam is en nie daarna soek om die volheid van die Gees van God in jou lewe te hê nie. Dit is ʼn aanklag teen die volk van God dat hulle nie Geesvervulde lewens lei nie. Julle verkeer in sondige ongehoorsaamheid solank as wat julle nie die krag van God in julle lewens het nie. Die skande en die sonde wat die duisende verloregaandes rondom julle na die verdoemenis laat voortspoed, is dat julle kerke het wat met alles vervul is behalwe die Heilige Gees. Dit is julle groot probleem.
“Mag die Here ook ons predikers vergeef. Ek is ten gunste van predikante en nie krities teenoor hulle nie, maar weet u wat is die probleem met ons predikante? Ons het omtrent alles in die lewe – ons het goeie opleiding, ons het universiteitsgrade, ons het goeie organisasies, ons het goeie toerusting, ons het goeie boeke en omtrent alles wat ons nodig het, behalwe één ding wat in ons lewens ontbreek: die krag van God!
“Om met die Heilige Gees vervul te word, sal jou iets kos. Jy moet sterwe aan jouself en bereid wees om as niks gereken te word. Daar moet ʼn verlange en ʼn dors in jou hart na die seëninge van die Here wees. Is jy vervul met die Heilige Gees? Ek wonder hoeveel mense is tevrede met die lewe wat hulle nou leef? Is jy tevrede om deur die lewe te gaan sonder om ooit ʼn siel vir die Here Jesus te wen? Die Here wil jou hart en lewe verander, dit salf en toerus sodat jy ʼn sielewenner kan word.” (Bron: Fullness of the Spirit, deur dr. John Rice).
Die situasie met betrekking tot herlewing is baie duidelik: die Heilige Gees is tweeduisend jaar gelede al uitgestort op Pinksterdag, en die doel daarmee was nie net om mense van sonde te oortuig en te red nie, maar ook om gelowiges toe te rus met krag uit die hoogte sodat hulle oor die sonde, die vlees en die wêreld kan oorwin en ook deur die Here gebruik kan word in die evangelisering van die ongeredde mensdom. Hoe meer Geesvervulde kinders van die Here daar is, hoe meer evangelisasie- en sendingwerk word daar gedoen, en hoe meer gebede gaan daar op vir die geestelike ontwaking van lou, vleeslike en wêreldgesinde kerklidmate wat steeds onbetrokke is by die werk van die Here op aarde. In antwoord op hierdie gebede werk die Here kragtig in die harte van diegene vir wie daar gebid word.
Paulus skryf van so ʼn voorbidder aan die Kolossense: “Épafras wat een van julle is, ʼn dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12). Die wil van God sluit nie net ons bekering in nie, maar ook ons heiligmaking. Paulus skryf aan ʼn ander gemeente: “[D]it is die wil van God: julle heiligmaking. ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ʼn mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8).
Die sleutel tot herlewing is dus dat individuele Christene die Here sal vertrou vir die seën van heiligmaking, onder die vaste vertroue dat hulle dit sal verkry indien hulle aan die voorwaardes daarvan voldoen. Wanneer hulle wel hierdie seën ontvang, sal hulle lewens daarvan getuig en ʼn duidelike boodskap laat uitgaan na mense naby aan hulle. In hulle gesprekke sal daar dikwels na regverdigmaking én heiligmaking verwys word, en in hierdie sin sal die heiliges self predikers wees, al is hulle nie voltydse, geordende leraars nie.
Dit was Paulus se verwagting dat die jong, Joodse bekeerlinge vinnig sou groei in heiligmaking en die kennis van die Here, sodat hulle self ook die boodskap aan hulle mede-volksgenote kon uitdra. Hy was egter teleurgesteld in hulle, omdat die bekeerlinge nie voortgegaan het om die seën van heiligmaking te soek nie, en daarom in die babaskoene van hulle geloofslewe vasgevang gebly het. As gevolg hiervan was hulle geestelike onderskeidingsvermoë baie swak en het Paulus hulle hieroor verkwalik:
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ʼn mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ʼn kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12–6:1).
Daar moet groei en vooruitgang wees, sodat jong Christene geestelik volwasse kan word, in staat om ook ander te kan help wat nog nie op die pad van die Here is nie, of nog net in ʼn vroeë stadium is van hulle geestelike pelgrimsreis. Die feit is dat daar besliste stappe gedoen moet word om benewens basiese evangelisasie ook voorsiening te maak om jong gelowiges in die leer van heiligmaking te vestig. Die “klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1) kan nie aan hulle eie lot oorgelaat word in die veronderstelling dat hulle maar self die weg tot die volheidslewe sal vind nie. Hulle is nog onkundig hieroor en moet oor geestelike groei onderrig word.
Andrew Murray het meer as ʼn eeu gelede aan die spits van ʼn herlewingsbediening in Suid-Afrika gestaan. Hy het altyd basiese evangelisasiewerk opgevolg met duidelike prediking oor vervulling met die Heilige Gees. Sy boeke oor heiligmaking as ʼn verdere genadewerk ná bekering, word vandag nog wêreldwyd gelees. Hy verbind heiligmaking nie aan ekstatiese ondervindings en tekens en wonders nie, maar aan hartsreiniging en geestelike toerusting met krag uit die hoogte.
Ander bekende herlewingspredikers uit die 18de en 19de eeue het dieselfde benadering gevolg. John Wesley se bekeerlinge het in sale bymekaargekom waar hulle oor hoër vlakke van geestelike toewyding onderrig is. Uiteindelik was daar meer as 500 sulke groepe. In Amerika was D.L. Moody ook ʼn bekende evangelis. Nadat hy evangelisasiedienste op ʼn plek gehou het waar baie mense tot bekering gekom het, het hy dit opgevolg met ʼn reeks dienste oor heiligmaking. Dr. R.A. Torrey, wat later hoof van die Moody Bible Institute geword het, is dikwels versoek om vir ʼn week lank oor heiligmaking te preek. Dit het ʼn groot verandering in baie gelowiges se lewens gebring. Hierdie boodskappe is gepubliseer, talle kere herdruk en het later ook in Afrikaans verskyn: “Die Heilige Gees: wie Hy is en wat Hy doen”.
Uit al hierdie voorbeelde is dit duidelik dat aksies vir evangelisasie aan goed georganiseerde aksies vir opvolgingswerk gekoppel moet word, want daardeur kan verseker word dat bekeerlinge nie geestelik stagneer en nalaat om hulle roeping te vervul nie. Daar moet so ver moontlik seker gemaak word dat almal wat van regverdigmaking kan getuig, ook van heiligmaking kan getuig. Dan alleen word daar blywende en standhoudende werk in die uitbreiding van God se koninkryk op aarde gedoen.
Uit profesieë oor die wederkoms is dit ook duidelik wat die rol van regverdigmaking en heiligmaking is. Wat hulle redding betref, sal die verheerlikte kerk in die hemel die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9). Hulle redding word geheel en al op die genadewerk van die Lam van God aan die kruis gebaseer – hulle het dit in die geloof aangeneem en God het aan hulle ʼn nuwe lewe geskenk wat op die Rots, Jesus Christus, gebou is.
Die rol van heiligmaking blyk meer spesifiek uit die bruilofskleed waarmee die bruid van die Lam beklee sal wees: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).
Die regverdige dade van die heiliges verwys na die vrug van die Gees in die lewens van diegene wat reeds gered is en aan Christus behoort. Hierdie regverdige dade is die weefstof van die bruilofskleed. Met die oog hierop sê Paulus: “Jaag ... die heiligmaking [na] waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die bruid van Christus moet ʼn paslike bruilofskleed aanhê om voor Hom te kan verskyn, en dit vloei uit die heiligmaking van die bruid voort. Sy kan nie haarself heilig nie, maar Christus kan dit wel doen as sy met haar hele hart daarna soek: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee ... om dit te heilig ... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Die Here Jesus is dus nie net ons regverdigmaking nie, maar ook ons heiligmaking (1 Kor. 1:30).
Net diegene wat van heiligmaking kan getuig, bou met goud, silwer en kosbare stene op die fondament Jesus Christus. Hulle werk dus aan hulle bruilofskleed. Diegene wat in hulle vleeslikheid volhard, bou met hout, hooi en stoppels en verkwis hulle lewe ter wille van aardse belange wat geen waarde vir God se koninkryk het nie. Dit is nie vanselfsprekend dat elke geredde persoon noodwendig met die regte materiaal op die fondament van sy bekering sal bou nie. Baie van hulle doen dit nie, daarom sal hulle menslike werke verwerp word en sal hulle met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen. Hulle kan van redding getuig, maar nie van heiligmaking nie.
Baie van hierdie vleeslike mense weet nie eers van hulle roeping om ʼn tempel van die Heilige Gees te wees nie, daarom verberg hulle die lig van hulle getuienis sodat die meeste van hulle vriende nie eers weet dat hulle Christene is nie. As gevolg hiervan voel hulle baie gemaklik in die geselskap van wêreldlinge. In ʼn tyd soos hierdie behoort daar ʼn baie duidelike oproep na vleeslike Christene uit te gaan om die Here met hulle hele hart te soek en vir die seën van vervulling met die Heilige Gees te vertrou. Die Here sal diegene wat hulle sonde en vleeslikheid bely, van al hulle ongeregtigheid reinig, met sy Gees vervul, en daarna ʼn boodskap van verlossing én heiligmaking aan hulle toevertrou wat hulle met vrymoedigheid sal kan verkondig.
Aan diegene wat reeds die stap van heiligmaking gedoen het, gaan die boodskap uit dat daar hoër hoogtes is om na te streef. Die Here wil voortgaan met sy reinigende werk in ons lewens sodat ons meer vrug kan dra – nie net dertigvoudig nie, maar sestigvoudig en selfs honderdvoudig. Die goeie saad van die Woord wat in ʼn rein hart gesaai is, sal veel oplewer vir die uitbreiding van Christus se koninkryk op aarde. Hiertoe roep die Here alle gelowiges.
Skriflesing: “En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ʼn Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus” (Hand. 19:1-5).
Hierdie groepie van twaalf dissipels in Éfese het wel geglo dat Jesus die Messias en Verlosser is, maar hulle het geen getuienis van wedergeboorte deur die Heilige Gees gehad nie. Johannes die Doper deur wie hulle gedoop is, het gesê: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (Matt. 3:11). Sondebelydenis en waterdoop kon die mense nie salig spreek nie. Geloof in Jesus Christus as die Lam van God wat die straf vir mense se sondes sou betaal, was nodig vir redding. Johannes die Doper se bediening as boodskapper moes eindig nadat hy die volk op die koms van die Messias voorberei en Hom aan hulle uitgewys het. Dit is waarom hy gesê het: “Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh. 3:30). Mense moes nie langer Johannes se dissipels wees nie maar moes dissipels van die Messias word, want net Hy kon hulle geestelik verander.
Die Here Jesus het eers ʼn soenoffer gebring sodat mense deur sy bloed van hulle sondes gereinig kan word. Daarna het Hy sy Heilige Gees uitgestort sodat almal wat die evangelie hoor van hulle sonde oortuig kan word, asook van die geregtigheid wat Christus aan die kruis bewerk het, én van die oordele wat op alle onbekeerlikes rus. Doopwater kan niemand se sonde wegwas nie; net die genadewerk van Christus wat deur die Heilige Gees aan ʼn berouvolle siel bedien word, kan dit doen. Jesus het gesê: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die (Heilige) Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).
Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde. Indien hulle positief hierop reageer deur hulle sondes te bely en Jesus as Verlosser aan te neem, sal die Heilige Gees hulle wederbaar en die nuwe lewe van Christus in hulle harte vestig. Dit is die doop van Christus wat deur sy Heilige Gees bedien word. Paulus sê vir die gemeente: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” (1 Kor. 12:13). Romeine 8:16 sê: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.” Hoe kan die Heilige Gees ons innerlik verander en deur ʼn geestelike doop van ons lede van die liggaam van Christus maak as ons nie eers van sy bestaan bewus is nie? Waarop baseer mense hulle Christenskap as hulle hoegenaamd nie van die Heilige Gees en sy herskeppende werk bewus is nie? ʼn Blote verstandelike aanname van Christus sonder diep geestelike oortuigings sal nie ʼn wesenlike verandering teweeg bring nie, selfs al word dit ook uiterlik bevestig deur ʼn kerklike ritueel soos die waterdoop.
Dit is duidelik dat die groepie gelowiges wat Paulus in Éfese ontmoet het, nog nie die oorgang gemaak het van ʼn uiterlike Christus in hulle verstand na ʼn innerlike Christus in hulle harte nie. Hulle het Johannes die Doper se getuienis aanvaar dat Jesus die Messias is, maar dit het nie na ʼn persoonlike ontmoeting met Hom gelei nie. Hulle het die Verlosser net met hulle lippe bely, maar hulle harte was steeds koud en geestelik onveranderd. Die Here Jesus het baie met sulke hartelose vormgodsdienstiges in Israel te doen gekry en vir hulle gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9).
Menslike leerstellings, belydenisskrifte en lippediens aan die Here is nie genoeg om ʼn veranderde hart tot gevolg te hê nie. Ons harte moet herskep word deur ʼn geestelike wedergeboorte. Jesus het dit onomwonde gestel aan Nikodémus, wat een van Israel se vooraanstaande geestelike leiers was: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3) Nikodémus kon glad nie begryp hoe ʼn persoon ʼn tweede keer gebore kon word nie, want hy het niks van ʼn geestelike geboorte verstaan nie. Jesus het hom oor sy onkunde berispe: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:10).
Die belangrikste opdrag wat God in die Ou Testament aan Israel gee, is: “[W]ees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Hierdie opdrag geld eweneens vir ons in die Nuwe Testament: “[S]oos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Ware heiligheid wat die beeld van God vertoon, kan net van binne af uit ʼn veranderde hart kom, wanneer die beginsels van God se geregtigheid deur die Heilige Gees op die tafels van ʼn gelowige se hart geskryf is (2 Kor. 3:3). Dit bepaal jou lewensbeginsels, verander jou persoonlikheid en lewenswandel ten goede en maak van jou ʼn spreekbuis vir die Here. Heiligheid kan nie van buite af kunsmatig deur die aanleer van sekere gedragspatrone aangeplak word en in kombinasie met ʼn verdorwe hart funksioneer nie, want die resultaat daarvan is skynheiligheid. Só ʼn persoon is soos ʼn witgepleisterde graf wat van buite af mooi lyk, maar daar is geen ware lewe in hom nie. Dit kan lyk of hy godsdienstig is, maar as gevolg van sy geestelike doodsheid is sy uiterlike vertoon vals, hy smeer sy sonde toe, handhaaf dubbele standaarde, en sy gesprekke getuig nie van die Here se waarheid nie. Trouens, hy verstaan nie eers die dinge van die Here nie en het ʼn baie beperkte en verwronge begrip daarvan.
Daar was verskeie uitstaande gelowiges in die Ou Testament wie se harte deur die Here verander is. Hebreërs 11 bevat ʼn erelys van geloofshelde uit hierdie tyd. Hulle kon almal getuig van veranderde harte, iets wat net die Here alleen kan doen: “En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Deut. 30:6). Hulle het, by wyse van spreke, ʼn geestelike hartoorplanting ontvang. Die Here sê: “... Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Eseg. 36:26-27).
Dit is verbasend dat Nikodémus nie die noodsaaklikheid van ʼn veranderde, weergebore hart begryp het nie. Geen wonder nie dat die gewone lede van die volk ook net lippediens aan die Here bewys het, terwyl hulle harte ver van Hom af was. Die belangrikste rede vir hierdie gebrekkige insig was onkunde oor wat die Here in sy Woord sê. Hierdie aanklag geld vandag nog steeds t.o.v. sowel teoloë en kerkleiers as lidmate: “Julle is godsdienstige leiers van julle kerk en julle weet nie dat ʼn mens geestelik weer gebore moet word sodat die Here sy hart kan verander nie? ... En lidmate, dit is tevergeefs dat julle die Here probeer dien deur die voorskrifte van die leiers na te volg, sonder dat julle harte in die saak is en julle die Here julle God met ’n opregte hart liefhet.” Dit is nie genoeg om God net met jou mond en jou menslike handelinge te vereer nie, daarom sê Jesus: “Nie elkeen wat vir my sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21). Die Here se wil met betrekking tot ʼn weergebore hart en ʼn veranderde lewe moet uitgevoer word, want so alleen word die mens van binne af geestelik en moreel vernuwe.
Die dissipels wat Paulus in Éfese ontmoet het, was die slagoffers van onkunde, daarom het hulle prontuit erken dat hulle nog nie van die Heilige Gees gehoor het nie. Dit beteken dat hulle nie van sy oortuigingswerk of enige van sy ander bedienings bewus was nie. Hulle het slegs van Jesus gehoor en besluit om sy volgelinge te word. Die voorwaardes van dissipelskap het hulle egter nie geken nie, en ook nie die rol van die Heilige Gees om dit ʼn werklikheid te maak nie.
Dieselfde probleme van onkunde oor die grondbeginsels van die evangelie van Christus het deur die hele kerkbedeling voortbestaan, en dit verklaar die hoë voorkoms van vormgodsdiens in die wêreld. Paulus verwys na nominale gelowiges en beskryf hulle as: “mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). Hy gee dan vir Timótheüs opdrag om hom van hierdie mense af weg te keer en geen deel aan hulle dooie godsdienstige gebruike te hê nie. Hedendaagse kerkmense wat ook nie van die Heilige Gees se wederbarende krag kan getuig nie, behoort ondervra en geleer te word: “Het julle al van die Heilige Gees gehoor, en het julle Hom vertrou om julle van jul sonde en verlorenheid te oortuig? Net Hy kan julle wederbaar en aan julle ʼn deel gee aan die nuwe lewe van Christus. Net Hy kan die Here Jesus ʼn werklikheid maak in julle lewens en julle ook in die hele waarheid lei om die Bybel reg te kan verstaan.”
Moderne predikers behoort ag te slaan op die volgende vrae: “Begryp jy die sleutelrol van wedergeboorte in die redding van sondaars, naamlik dat niemand hiersonder die koninkryk van die hemel kan beërf nie? Het jy self ʼn ervaring van wedergeboorte gehad toe jy uit die duisternis oorgekom het tot die wonderbare lig van Christus? Of beroep jy jou net op die uitverkiesingsleer en die toepassing van verbondstekens om mense salig te verklaar? Hoe kan hierdie dinge iemand innerlik verander sonder wedergeboorte?”
Die geestelike groei van gelowiges in Éfese – en in baie gevalle die gebrek aan groei – rig ʼn sterk boodskap aan die eindtydse kerk, want dieselfde beginsels geld ook vir ons. Tydens sy derde sendingreis in die middelvyftigerjare van die eerste eeu, het Paulus meer as twee jaar lank in Éfese oorgebly en intensiewe onderrig aan gelowige Jode sowel as Grieke gegee. Sy verlengde onderrig vestig die aandag op die feit dat daar ʼn lang proses van geestelike groei is wat op die wedergeboorte van ʼn persoon volg. Die rol van die Heilige Gees hierin is van kardinale belang, want nadat die sondaar tot bekering gekom, Jesus as Verlosser aangeneem en deur die Heilige Gees lewend gemaak is, moet hy ook deur die Gees bekragtig, vervul en in die hele waarheid gelei word terwyl hy tot geestelike volwassenheid opgroei.
Daar is selfs onder weergebore Christene baie onkunde oor die verdere bedieninge van die Heilige Gees, daarom stagneer so baie van hulle geestelik en raak uiteindelik by dwalings betrokke. Dit is in hierdie verband dat herlewing baie belangrik is, want daar moet nuwe lewe en toewyding kom waar daar reeds lewe is – dit is wat hérlewing beteken. Christene wat hulle visie verloor het en geestelik lou, biddeloos en materialisties is, wat sonde begin goedpraat, hulle onderskeidingsvermoë vir dwalings begin verloor, en onbetrokke raak by evangelisasiewerk, moet tot ʼn nuwe selfondersoek en oorgawe aan die Here opgeroep word. Wanneer hulle opnuut gereinig en met krag uit die hoogte versterk is (m.a.w. as hulle herleef het), sal hulle begin getuig en sal die redding van siele die vrug van herlewing wees. Net ʼn geestelik kerngesonde gemeente waarin lidmate wandel deur die Gees, kan deur die Here gebruik word om ʼn verskil te maak onder ʼn verloregaande mensdom, asook onder vleeslike en dwalende Christene.
Paulus het hom daaraan toegewy om die jong gelowiges as dissipels op te lei wat alle aspekte van God se wil goed verstaan, en weet wat dit beteken om in die volheid van die Heilige Gees te wandel. Aan die einde van sy verblyf in Éfese het hy gesê: “... ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Hand. 20:27). Hy het die leerstellings van regverdigmaking en heiligmaking intensief verduidelik, en gelowiges ook laat verstaan dat die bedeling van die wet vervang is deur die bedeling van genade. As deel van hierdie oorgang het hy die gebruik gevestig om op Christus se opstandingsdag (Sondag) byeenkomste te hou en Nagmaal te vier: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand. 20:7).
Slegs die volle waarheid van God se Woord kan gelowiges van geestelike dwalings vrywaar. Jesus self het gesê: “As julle in my Woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:31-32). Selfs nie eers al die ouderlinge in die gemeente van Éfese was sterk genoeg in die waarheid gevestig nie, en Paulus het dit geweet. In sy afskeidswoorde aan die kerkraad het hy gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Hand. 20:28-31).
Paulus het nie net teen dwalings gewaarsku wat van buite die gemeente af sou kom nie, maar veral ook teen valse leerstellings wat in die binnekring van die gemeente self sou ontstaan. Dieselfde verskynsel is kenmerkend van die moderne Christendom, want die groot vyand van die ware kerk op aarde gebruik elke moontlike kanaal om Christene te mislei. Volgens die Bybel sal die duiwel met sy pogings voortgaan totdat die multigodsdienstige valse christus, die Antichris, beheer oor die hele wêreld verkry. Die feit dat die antichristelike gees reeds ʼn sterk invloed in verskeie Christelike kerke en kweekskole het, dui daarop dat die groot afval van die laaste dae in ʼn gevorderde stadium is: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Wrede wolwe is steeds besig om verwoestingswerk in die lewens van vormgodsdienstige en geestelik onvolwasse lede van Christelike kerke te saai.
In die jaar 60 n.C. het Paulus uit die tronk in Rome ʼn sendbrief aan die gemeente in Éfese gestuur. Hierin bid hy hulle toe dat hulle onder die leiding van die Heilige Gees verligte oë van die verstand sal hê om die evangelieboodskap reg te kan verstaan (Ef. 1:18). Hy bid ook dat die Here hulle met die krag van die Heilige Gees sal versterk sodat hulle onwankelbaar in die liefde van Christus gegrond sal word en vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:14-19). Om prakties die volheid van God te kan ervaar, vereis dat ons deur toewyding en vervulling met die Heilige Gees sal opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Ons moet die nodige geestelike insig hê om tussen reg en verkeerd te kan onderskei, en ook geestelik sterk wees om teen sonde en versoekings te kan oorwin.
Paulus herinner die Efésiërs daaraan dat kinders van die Here in ʼn stryd teen die duiwel en sy bose werke gewikkel is, en ten alle tye sterk weerstand daarteen moet bied: “[G]ee aan die duiwel geen plek nie. Laat die een wat steel, nie meer steel nie. ... Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie ... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 4:27-29; 5:11). Wanneer gelowiges hulle hieraan skuldig maak, bedroef hulle die Heilige Gees, daarom moet sulke situasies streng vermy word (Ef. 4:30). Dwalings en morele sondes staan direk teenoor ʼn lewe van vervulling met die Heilige Gees en kan nie daarmee versoen word nie: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).
Die leer van heiligmaking as ʼn dieper genadewerk word aan die gemeente voorgehou as die enigste oplossing vir oorheersing deur sondige begeertes. Hulle word daaraan herinner dat hulle vorige, sondige lewe deur die mag van die gewoonte gevestig is, en dat dit in ʼn daadwerklike stap van oorgawe afgelê moet word. In die plek daarvan moet gelowiges die Here vertrou om hulle deur sy Gees met die nuwe lewe in Christus te beklee. Sy opdrag is: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).
Die saak van heiligmaking is só van wesenlike belang dat Paulus dit in dieselfde brief herbevestig en voorhou as een van die vereistes wat op die bruidsgemeente rus om heilig en sonder gebrek voor die hemelse Bruidegom te verskyn: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee ... om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Ná die eerste reiniging van ons sondes wil Christus ons ook volkome heilig maak sodat ons sonder gebrek voor Hom kan verskyn by die bruilof van die Lam.
Wat was die gevolg van al Paulus se onderrig, waarskuwings en bemoediging aan lede van die gemeente in Éfese? ʼn Gemengde reaksie. Sommige lidmate het met hulle dooie vormgodsdiens voortgegaan sonder om ooit regtig by die Here uit te kom. Ander was waarlik weergebore maar nie met die Heilige Gees vervul nie. Hulle het vleeslik en moreel permissief gelewe en was geneig tot geestelike dwalings wat vir hulle sekere voordele ingehou het. Dan was daar ook die minderheid Geesvervulde kinders van die Here wat sterk standpunt vir die waarheid van die Woord ingeneem het, maar as gevolg van hulle streng standaard van heiligheid was hulle onpopulêr by die meerderheid lidmate.
Uiteindelik het vormgodsdiens in assosiasie met geestelike dwalings die oorhand gekry en die gemeente het veragter in die genade. Die Naam van Jesus is nog bely, maar heilige wandel en Godsvrug was ʼn rariteit. In die jaar 95 n.C. toe Johannes na die eiland Patmos verban was, het die verheerlikte Christus uit die hemel deur die Heilige Gees aan Johannes ʼn brief gedikteer wat hy aan die gemeente in Éfese moes stuur. Hierin word die gemeente geloof vir hulle ywerige arbeid in die gemeente van Christus, en ook vir die feit dat hulle die ernstige dwalings van sekere sektes teëgestaan het. Op die verborge, geestelike vlak van hulle lewe het hulle egter die toets gedruip. Hulle het Christus wel met hulle lippe bely, maar hulle harte was nie op Hom gerig nie en eerder deur vreemde liefdes vervul, bv. liefde vir hulle kerk. Hulle het nie ʼn persoonlike verhouding met die Here Jesus gehad nie, en daarom was Hy op die punt om sy Gees aan hulle te onttrek. Hy sê aan hulle: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).
Die kandelaar met die olie daarin simboliseer die Heilige Gees wat die lig van Christus in die gemeente laat skyn. Wanneer die Here hierdie kandelaar onttrek, tree daar totale geestelike duisternis in die gemeente in, en dan sal dwalings en vormgodsdiens nog meer begin floreer, en alle werke van die duisternis sal toeneem. Die gemeente in Éfese het, behalwe vir ʼn klein groepie getroues, selfs nie op hierdie waarskuwing van Christus gereageer nie, en het uiteindelik heeltemal tot niet gegaan.
Veertig jaar nadat Paulus die twaalf dissipels van Jesus in Éfese aangetref het wat niks van die Heilige Gees geweet het nie, het feitlik die hele gemeente hulle eerste liefde verlaat en kon nie meer van ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus deur die Heilige Gees getuig nie. Die jong geslag is nie meer voor die uitdaging van wedergeboorte gestel nie, en gevolglik nie in die vrese van die Here onderrig nie. Deur hierdie optrede het die vervalle gemeente nie net die Gees van God bedroef nie, maar Hom ook weerstaan en uitgeblus.
In die lig van die lesse wat ons uit die ervarings van die gemeente in Éfese kan leer, is daar ʼn aantal indringende vrae wat ons aan onsself behoort te stel:
· Is ons bewus van die Heilige Gees se oortuiging van sonde, asook sy krag tot wederbaring, of dien ons Jesus net met ons lippe sonder dat Hy op ʼn geestelike vlak deel van ons lewe is?
· Is ons bewus van die gevare van ʼn vleeslike Christendom wat wel gered is maar nie met die Heilige Gees vervul is nie?
· Besef ons dat klein kindertjies in Christus (onvolwasse Christene) nie insig het in die leer oor heiligmaking nie en ook nie ʼn duidelike begrip het van sonde nie?
· Verstaan ons die leer oor heiligmaking en die opdragte wat daarmee gepaard gaan, naamlik die aflê van die ou natuur en alle neigings wat daarmee geassosieer kan word, en om beklee te word met die nuwe natuur van Christus?
· Begryp ons die gevaar van skeuringe in ʼn gemeente wat die gevolg is van dwalings wat nie bespreek, in die lig gebring en vermy word nie?
· Wanneer gaan ons agterkom dat ʼn gemeente wat geestelik siek is, nie op ʼn oortuigende wyse kan uitreik na die vleeslike Christendom en die heidendom rondom hom nie?
· Is ons werklik bereid om aan die eis van heiligheid te voldoen en sodoende ons eie lewens op God se standaard gevestig te kry, sodat Hy ons doeltreffend in sy diens kan gebruik?
· Het ons al die ontdekking gemaak dat ʼn gebrekkige gebedslewe, ʼn swak kennis van die Bybel en onvoldoende blootstelling aan goeie prediking ons geestelik kan lamlê en onbruikbaar in die Here se diens kan maak?
Die Here is onveranderlik, sy liefde vir sondaars grensloos, en sy begeerte om getroue diensknegte toe te rus om sy getuies te wees, onwrikbaar. Selfs al het die sonde meer geword, is die genade van die Here nog meer oorvloedig. Christus is magtig om te vergewe en ons teen die verskerpte aanvalle van Satan en sy koninkryk te beskerm. Hy is ook meer as gewillig om herlewing te skenk aan elkeen wat dit begeer en daarom bid, al is die meerderheid ook afvallig en onverskillig. Aanvaar die uitdaging om onder die getroue minderheid te wees wat nie net die seën van regverdigmaking deelagtig geword het nie, maar ook met hulle hele hart na heiligmaking streef. Daar was sulke manne en vroue in Éfese, en hopelik is daar in ons tyd ook ʼn gesonde kerngroep wat die Here vir ʼn groter ingryping in hulle lewe sal vertrou, sodat hulle bruikbaar kan wees in die uitbreiding van sy koninkryk.
Wanneer Petrus se lewe as dissipel in oënskou geneem word, is daar twee duidelike fases wat daarin onderskei kan word. Eers was daar die wisselvallige en selfgesentreerde deel van sy lewe tussen sy bekering en vervulling met die Heilige Gees, maar ná Pinksterdag sien ons Petrus as die Geesvervulde dissipel van Jesus wat die krag en insig gehad het om konsekwent volgens die Here se wil op te tree en groot dinge in die vestiging van die Christelike kerk te doen. In die eerste helfte sien ons ʼn Petrus met beperkte kennis en wisselende lojaliteite, in wie se lewe die Gees en die vlees teenoor mekaar staan (Gal. 5:17). In die tweede helfte sien ons ʼn Petrus in wie se lewe die vlees, of eie-ek, gekruisig is en die Heilige Gees volle beheer verkry het om hom te lei, toe te rus en te gebruik soos nooit tevore nie.
Dit is duidelik dat alle gelowiges in hulle geestelike lewe deur hierdie twee fases gaan: Dit begin by hulle bekering en aanvanklike geestelike ontwaking wanneer hulle nog baie dinge moet leer – ook hoe om teen versoekings en die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede te kan oorwin. Wanneer hierdie groeiproses nie ernstig opgeneem en tot by die krisispunt van heiligmaking deurgevoer word nie, tree geestelike stagnasie in en word die tweede fase nooit bereik nie. Sulke mense bevind hulle dan in ʼn geestelike kleuterskool soos dit wat in 1 Korinthiërs 3:1-3 en Hebreërs 5:12-14 beskryf word. Vir diegene wat ʼn volle oorgawe doen en die Here vir volkome heiligmaking vertrou (1 Thess. 5:23-24), gaan vleeslikheid oor in geestelikheid en verkry hulle oorwinning oor die struikelblokke wat hulle vroeër lamgelê het. Die stryd en versoekings hou nie op nie, maar hierdie gelowiges weet nou hoe om dit te hanteer en nie meer van een geestelike neerlaag na die ander voort te sukkel nie.
Ons kan baie leer uit die twee fases in Petrus se lewe, omdat die meeste van die kenmerke daarvan gedurende die hele kerkbedeling deur dissipels van die Here Jesus ervaar word.
Petrus is as ’n visser by die See van Galiléa geroep om ’n dissipel van die Here Jesus te word: “En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg” (Matt. 4:18-20). Petrus het alles verlaat om die Messias te volg – sy werk én sy familie – en gestaan aan die begin van ʼn intensiewe leerskool.
Petrus het belangrike openbarings van die Here ontvang en was die eerste dissipel wat openlik verklaar het dat Jesus die Messias en Seun van God is. Hy het sonder huiwering gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16). Jesus het hierop geantwoord: “Jy is Petrus [afgelei van petros, ’n klein rotsie], en op hierdie rots [petra: ’n groot rots] sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Die groot rots verwys na Petrus se getuienis dat Jesus die Christus is. In hierdie uitspraak bevestig die Here Jesus vier kerngedagtes in verband met die Nuwe-Testamentiese kerk:
1. Hy sou Self sy kerk (die ekklesia, of uitgeroepenes) in die wêreld vestig en dus die Hoof daarvan wees – nie Petrus of enige van sy sogenaamde opvolgers nie.
2. Hy sou as Verlosser die fondament of rots wees waarop die kerk gebou word.
3. Hierdie kerk sou groot geestelike teëstand ervaar want al die bose magte waaroor Satan beskik, sou ingespan word om die kerk te vervals of te vernietig.
4. Die ware kerk sal nie vernietig word nie, maar al die aanslae teen hom oorleef.
In die tyd toe Petrus die belangrike openbaring oor Jesus as die beloofde Messias en Seun van God ontvang het, was hy nog nie ’n Geesvervulde gelowige nie en het nie die hele raad van God geken nie. Hy het bv. glad nie besef dat Jesus twee keer sou kom, en tydens sy eerste koms die lydende Messias sou wees wat sy lewe as ʼn losprys vir sondaars sou aflê nie. As gevolg van sy vleeslikheid en gebrekkige kennis kon Petrus nie verstaan waarom Christus moes ly en sterf nie, en het enige gedagte van hierdie aard sterk teëgestaan.
Die Here Jesus het gesê dat Hy baie onder “die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek [sou] word” (Matt. 16:21). Petrus het totaal afwysend hierop gereageer: “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ʼn struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matt. 16:22-23).
Pas nadat Petrus ’n stelling gemaak het oor ’n baie groot waarheid met betrekking tot Jesus se Godheid en Messiasskap, het die duiwel hom weens sy beperkte insig in God se raadsplan mislei om die moontlikheid van Jesus se kruisiging regstreeks te verwerp. Baie Christene wat geestelik onvolwasse en onkundig is oor sekere aspekte van Bybelse leerstellings, tree ook so op. Die een oomblik bely hulle ’n groot waarheid uit die Woord, en die volgende oomblik ontken hulle weer ’n kernwaarheid in die Bybel en verkondig een van Satan se baie leuens. Ten spyte van hulle verwronge Skrifbeskouing is hulle gewoonlik vas daarvan oortuig dat hulle die regte siening oor die Bybel huldig. Christene moet daarop bedag wees dat hulle nie noodwendig altyd in die Gees optree nie. Soms tree hulle in die vlees op en kan dan selfs ʼn spreekbuis vir die vyand wees om Bybelse waarhede te verloën en leuens te verkondig.
Nadat Petrus reggehelp is, was dit nie die einde van sy vleeslike arrogansie nie. Kort voor Jesus se kruisiging het Hy aan sy dissipels gesê: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My. ... Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê” (Matt. 26:31-35). Petrus was so selfvoldaan en seker van homself dat hy in werklikheid vir Jesus gesê het: “U kan hierdie saak in my bekwame hande laat, want ek weet wat ek glo en ek sal enduit by U staan – kom wat wil!” Deur hierdie vleeslike houding van hom het hy ook die ander dissipels beïnvloed om op hulle eie krag en integriteit te vertrou.
’n Mens kan die mooiste en mees eerbare voornemens hê om in die Here Jesus se voetspore te volg en nie daarvan af te wyk nie, maar sonder die instaatstellende krag wat Hy deur sy Heilige Gees aan ons verleen, sal daar niks van kom nie. Toe Jesus op die punt was om die doodstraf deur kruisiging opgelê te word, en sy dissipels onder geweldige druk van vervolging verkeer het, was Petrus nie eers in staat om teenoor ’n eenvoudige diensmeisie te erken dat hy ’n volgeling van Jesus was nie. Hy is deur vrees en onsekerheid oorweldig en het ter wille van selfbehoud gesweer dat hy Jesus nie ken nie (Matt. 26:69-74).
Petrus het gou sy fout besef: “En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Matt. 26:75). Wanneer ʼn mens se beste voornemens in mislukking eindig, voel jy baie teleurgesteld, skaam en jammer oor jou lafhartige optrede. Jou selfbeeld is in skerwe en deur jou getuienis as Christen is daar ’n streep getrek. Jy wonder hoe dit moontlik is dat jy so ’n swakkeling kon wees. Petrus het egter nie die stryd gewonne gegee nie, maar bitter berou gehad oor sy mislukking en neerlaag en besluit om weer te probeer.
Petrus was in hierdie stadium steeds nie met die Heilige Gees vervul nie, daarom kon verwag word dat daar van sy poging om sy integriteit as dissipel te herstel, nie veel sou kom nie. Kort ná die kruisiging van Jesus het hy by die ander dissipels aangesluit en probeer om sy gebroke geestelike lewe in orde te kry. Die dissipels was egter almal vreesbevange ná die teregstelling van Jesus en het hulleself in ’n vertrek toegesluit. Die Sondag toe die Here Jesus uit die graf opgestaan het, was hulle steeds agter geslote deure: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” (Joh. 20:19).
Tydens hierdie byeenkoms het die dissipels vir die eerste keer die sendingopdrag ontvang, en Jesus het ook op hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees” (vgl. Joh. 20:21-22). Hoewel hulle toe reeds deur die Heilige Gees die vrede van sondevergifnis gehad het, was hulle nog nie met die krag van die Heilige Gees vervul nie en kon dus toe nog nie begin om die opdrag van wêreldevangelisasie uit te voer nie. Hulle moes eers geestelik hiervoor toegerus word: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).
Voor die vervulling met die Heilige Gees het Petrus en die ander dissipels besef dat hulle nie die geestelike krag en motivering gehad het om ’n goddelose, vyandige wêreld met die evangelie van Christus te konfronteer nie. Hulle het hulle onvermoë besef, vir die geweldige uitdaging teruggedeins en besluit om maar liewer ’n lae profiel te hou en voorlopig na hulle sekulêre beroepe terug te keer. Petrus het gesê: “Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie” (Joh. 21:3).
Die Here Jesus het volle begrip vir hulle gebrek aan kennis, geestelike krag en toewyding gehad, en duidelik vir hulle gewys dat hulle nie gelukkig sou wees as hulle na die wêreld terugkeer nie. Hy het hulle by die See van Galiléa gaan opsoek, deur ’n wonderwerk verseker dat hulle baie visse vang, en daardeur vir hulle gewys dat net Hy ’n verskil in hulle lewens kon maak. Hy kon beslis ook van hulle vissers van mense maak. Hierdie gebeurtenis het Petrus tot stilstand geruk en hy het vir die eerste keer die almag van die Verlosser besef. Jesus het aan Petrus die geleentheid gegee om drie keer te bevestig dat hy Hom waarlik liefhet. Sodoende het hy vergoed vir die drie keer wat Hy Jesus verloën het, en het toe die opdrag gekry om as ’n herder vir die Here Jesus se kudde op te tree deur geestelike voedsel en versorging aan hulle te bied: “Laat my lammers wei. ... Pas my skape op. ... Laat my skape wei” (Joh. 21:15-17).
Onder die geledere van vleeslike Christene is daar ook verskeie persone wat ná ’n tyd besluit om nie meer die Here te volg en te dien nie, en hulle weer ten volle in ’n sekulêre loopbaan in die wêreld te gaan uitleef sonder om veel aandag aan die koninkryk van die hemel te gee. Hulle soek nie meer die Here nie en dien Hom op ’n halfhartige wyse. Sulke mense sal nooit geluk vind nie, omdat hulle ’n geestelike roeping verruil het vir iets wat tydelik, minderwaardig en onvervullend is. Daar is vir teruggevalle en ontnugterde dissipels net een pad en dit is terug na die Here Jesus, na hernude reiniging deur sy bloed en die vervulling deur sy Heilige Gees. Hulle moet Psalm 51 lees en saam met Dawid ’n nuwe oorgawe aan die Here maak.
Dit beteken natuurlik nie dat ʼn dissipel van Jesus nie sekulêre werk moet doen nie, want die beginsel bly staan dat “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess. 3:10). Net ʼn minderheid dissipels word vir voltydse diens geroep, en hulle is gewoonlik so betrokke by die werk van die Here dat daar geen geleentheid vir sekulêre werk is nie. Petrus was een van hierdie geroepenes vir voltydse diens, en hy het net besluit om weer ʼn visserman te word toe hy nie meer vir sy geestelike roeping kans gesien het nie. Wat hy kortgekom het was die toerusting met krag uit die hoogte.
Petrus was onder die groep van 120 dissipels en ander gelowiges wat in Jerusalem op die uitstorting van die Heilige Gees gewag het, sodat hulle toegerus kon word met krag uit die hoogte. In Handelinge 1:8 het die Here Jesus gesê: “... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Die opdrag was bomenslik groot, maar so ook die instaatstellende krag van die Heilige Gees wat tot alle dissipels se beskikking is.
ʼn Tyd van wag op die Here was nodig voordat die beloofde seën ontvang is. Petrus, wat in ’n stadium herhaaldelik vir Jesus verloën het toe hy onder die druk van vyandige mense geswig het, het hom vir tien dae lank saam met die ander dissipels verootmoedig om sy sonde en vleeslikheid te bely. Hy het sy geloof volkome in Jesus Christus gestel en gewag op die uitstorting van die Heilige Gees sodat hy vir diens bekragtig kon word. Die dissipels is op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul en die “nuwe Petrus” het met groot oortuiging die evangelie aan ’n misleide Joodse volk verkondig. Toe eers kon die roeping wat hy van die Here Jesus ontvang het vervul word, naamlik dat hy ʼn visser van mense sou wees. Hierdie dissipel, wat minder as twee maande vroeër onder druk geswig het weens sy menslike swakhede, het op Pinksterdag ʼn kragtige boodskap onder die leiding van die Heilige Gees gebring en drieduisend siele na die Here gelei vir redding.
Petrus was nie net ʼn evangelis nie, want die Here Jesus het ook ʼn drievoudige pastorale bediening aan hom toevertrou (Joh. 21:15-17). Hy moes die Here se lammers laat wei, wat dui op die plig om opvolgwerk met die oog op geestelike groei onder jong bekeerlinge te doen. Verder moes hy die Here se skape oppas, wat daarop dui dat die hele gemeente teen dwalings gewaarsku en ook geestelik versterk moes word om ernstige verdrukking te verduur. In die laaste instansie moes hy ook die skape laat wei, wat beteken dat volwasse gelowiges op ʼn gereelde grondslag geestelike voedsel moes kry om van hulle volwaardige dissipels en getuies van Christus te maak. Melkkos moes aan die lammers bedien word en vaste spys aan die skape, sodat almal in hulle geloof opgebou kon word.
Petrus het twee sendbriewe geskryf waarin hy sy volksgenote geëvangeliseer en gemeentes pastoraal bedien het. Hierdeur het hy gesorg dat jong gelowiges verlang na die onvervalste melk van die woord sodat hulle daardeur kon opgroei (1 Pet. 2:2). Die gemeentes is ook op vervolging ter wille van hulle geloof voorberei, sodat hulle nie ontmoedig sou word nie maar sterker uit die stryd sou tree: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13).
Hierbenewens het hy sterk teen geestelike dwalings gewaarsku, want misleide gemeentelede kan nie waardige getuies vir Christus wees nie. ʼn Hele hoofstuk (2 Pet. 2) word aan valse leraars en die gevaar van hulle leerstellings gewy. Sulke misleide leraars belowe aan mense vryheid, maar hulle is self nog slawe van die verdorwenheid (2 Pet. 2:19). Die enigste oplossing hiervoor is waaksaamheid teen misleiding, asook ʼn toename in die kennis en genade van Christus: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18).
In die fase van Petrus se lewe ná Pinksterdag het hy deurgaans ervaar wat dit was om in die volheid van die Heilige Gees te wandel en ver verby aardse begeerlikhede na ons ewige woning in die hemel te kyk. Hy het uit eie ondervinding geweet wat dit was om ’n vleeslike Christen te wees wat die Here Jesus in baie opsigte teleurgestel en ook verloën het, maar deur die genade van God het hy die opdrag ernstig opgeneem om op die Here te wag totdat hy die krag van die Heilige Gees ontvang het. Daarna het hy nooit weer omgekyk of gehuiwer nie, selfs nie toe hy aan die einde van sy lewe ’n marteldood deur kruisiging in die gesig gestaar het nie.
Wandel jy ook in die volheid van die Heilige Gees? Dan het jy krag ontvang om ’n getuie vir Christus te wees en onder die moeilikste omstandighede staande te bly sonder om moedeloos te word en terug te draai na die wêreld toe. Jy sal ook kragtig wees in die Here om met sukses teen die aanslae van die duiwel weerstand te kan bied. Verder sal jou kennis van die Here en sy Woord toeneem totdat jy saam met al die heiliges ten volle sal begryp wat die omvang van Christus se liefde vir ons is, sodat jy ook daarin gewortel en gegrond kan word.
Petrus het sy Christelike bediening met groot ywer en toewyding voortgesit. Hy het ʼn sterk evangelisasieywer gehad, die gelowiges opgeroep om die deugde te verkondig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9), en hulle daarop gewys dat dit konkrete, histories bewysbare feite was wat hy en die ander apostels verkondig het: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Pet. 1:16).
Die jong gemeentes is ook daaraan herinner dat hulle bywoners en vreemdelinge in ’n bose en verbygaande wêreld is waarin hulle alles moontlik moes doen om hulleself van boosheid te weerhou en die Here voluit te dien (1 Pet. 2:11). Hierdie oproep is ook gedoen in die lig van die naderende wederkoms van Christus: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12).
Heiligmaking was ’n belangrike tema in Petrus se prediking en geskrifte. Hy het die opdrag aan Israel in Levítikus 11:44 herhaal en daardeur bevestig dat dit op alle mense van alle tye van toepassing is: “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16). Die mens is na God se beeld van heiligheid geskape, maar hierdie beeld is deur die sondeval geskend. Ons word egter geroep om opnuut met God se beeld van volkome heiligheid beklee te word, want daarsonder kan ons Hom nie behaag nie. Die wedergeboorte in ʼn nuwe lewe is vir ons moontlik gemaak deur die dood en opstanding van Jesus Christus (1 Pet. 1:3).
Petrus het in ʼn tyd van buitengewone vyandigheid teenoor die kerk van Christus geleef. Hierdie teenkanting het nie net van die Joodse Raad gekom weens hulle militante verwerping van Jesus as Messias nie, maar ook van die goddelose Romeinse Ryk. Hierdie twee magte het saamgespan om Jesus te veroordeel en as ʼn misdadiger te laat kruisig. Tydens Jesus se verhoor het Petrus en die ander dissipels nog nie die geestelike krag, insig en motivering gehad om te begryp wat daar gebeur nie, en hulle was nie in staat om by Jesus te staan nie. Hulle is oorkom deur vrees vir die Joodse leiers en het gevlug. Hierdie vrees het egter heeltemal verdwyn nadat die dissipels met die Heilige Gees vervul is, en hulle het daarna nie eers vir ʼn dreigende marteldood teruggedeins nie.
Petrus sou Jesus nooit weer verloën nie, en hy het selfs nie eers Nero se mag gevrees toe hy in Rome deur die moontlikheid van kruisiging gekonfronteer is nie. Jesus het vroeër reeds die ongelukkige einde van Petrus se aardse lewe voorspel toe Hy vir hom gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ’n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My” (Joh. 21:18-19). Hy het nie net die kruisevangelie verkondig nie, maar Jesus ook fisies op die weg van kruisiging gevolg.
Volgens Foxe’s Book of Martyrs is Petrus in Rome ter dood veroordeel en gekruisig. Nero het redes gesoek om Petrus tereg te stel, maar mede-Christene het daarvan te hore gekom en hom dringend versoek om die stad te verlaat en sodoende sy lewe te spaar. Petrus was aanvanklik onwillig om te vertrek, maar is uiteindelik deur hulle oortuig om te vlug. Toe hy by die stadspoort gekom het, het Jesus volgens oorlewering aan hom verskyn, en Petrus het in eerbied aan Hom gevra: “Here, waarheen gaan U?” – waarop Hy geantwoord het: “Ek het weer gekom om gekruisig te word.” Petrus het na aanleiding hiervan verstaan dat hy sy lyding ter wille van Christus moes aanvaar, en het dadelik teruggedraai na die stad toe. Hy is kort daarna gekruisig, maar op sy eie versoek is hy onderstebo gekruisig. Hy het gesê dat hy onwaardig was om op dieselfde manier as die Here Jesus gekruisig te word.
Dit is slegs wanneer ’n mens se oë op jou ewige bestemming in die hemel gerig is dat jy die Here Jesus onvoorwaardelik sal volg en dien – ongeag wat die koste daarvan mag wees. Vervulling met die Heilige Gees is ’n absolute vereiste vir ’n lewe van volkome diens aan die Here, asook vreesloosheid vir die gevolge daarvan – selfs al beteken dit ʼn marteldood. Petrus het ná sy bekering ’n ooglopende ervaring van vervulling met die Heilige Gees gehad. Alhoewel die Heilige Gees in die eerste eeu eenmalig uitgestort is, moet elke gelowige eers ʼn tyd van verootmoediging en selfondersoek hê sodat sy hart gereinig kan word van sonde en vleeslikheid – dan sal die Heilige Gees in al sy volheid besit van hom neem.
Kan jy ook van die vervulling met die Heilige Gees getuig en wandel jy steeds deur die Gees? Daarsonder sal jy nie vaste oortuigings hê nie, deur elke wind van lering meegesleur word, maklik voor die geringste teëstand swig, en bo alles nie geskik wees om as ʼn getuie vir die Here Jesus op te tree terwyl Hy talm om te kom nie. Ons moet ook, soos die 120 getroue volgelinge van Jesus in die bokamer, wag op die Here totdat ons toegerus is met krag uit die hoogte. Dan alleen sal ons met vertroue die moeilike taak kan aanpak wat Hy aan ons opgedra het.
Skriflesing: “... ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ʼn geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. … Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ʼn waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-6, 11).
Paulus versoek die Nuwe-Testamentiese kerk om God se handelswyse met Israel as lesse te neem en uit hierdie volk se foute te leer, want ons is almal op ʼn reis na die ewigheid. Israel se uittog uit Egipte kan as ʼn uitbeelding geneem word van hierdie pelgrimsreis. Hulle het op ʼn tog vertrek wat by die slag van die paaslam begin het, en wat hulle uiteindelik tot binne-in die Beloofde Land gebring het. Slegs ʼn klein groepie van hulle het die geestelike lesse van heiligmaking en toewyding wat die Here hulle op hierdie reis geleer het ter harte geneem. Die groot meerderheid van die volk het ʼn wisselvallige geestelike lewe van val en opstaan gelei en as gevolg daarvan hulle eie vordering vertraag.
Israel se bevryding uit Egipte en hulle uittog uit die gebied van hulle sondige verlede om die Here weg van hulle onderdrukkers af te gaan dien, is ʼn tipe van die redding van sondaars uit die slawerny van sonde, en hulle daaropvolgende afsondering om sonder enige kompromie met die wêreld die Here te dien. Die reis wat Israel van Egipte af na Kanaän moes onderneem, is ʼn tipe van die Nuwe-Testamentiese weg van heiligmaking. Die geestelike hardheid van Israel en hulle herhaalde weiering om hulle aan die vormende hand van die Here te onderwerp, is ʼn tipe van die Nuwe-Testamentiese Christene wat met hulle vleeslikheid en liefde vir die wêreld volhard, en daardeur nalaat om hulle heiligmaking in die vrees van die Here te volbring (vgl. 2 Kor. 7:1).
Paulus sê dat ons die waarskuwings oor Israel se afvalligheid ter harte moet neem, veral in die lig daarvan dat so min Christene met volharding en oorgawe die weg van heiligmaking bewandel. As ons slegte, vleeslike begeertes najaag, sal ons geestelike ontwikkeling vertraag en selfs heeltemal geblokkeer word.
Israel se reis van bevryding het binne-in Egipte begin waar die volk magtelose slawe van Farao was. Die paaslam wat in Egipte geslag is, was ʼn profetiese heenwysing na die Here Jesus as die vlekkelose Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geslag sou word. Paulus sê: “… ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). “In hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Ef. 1:7). Petrus sê dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus, soos van ʼn lam sonder gebrek en vlekkeloos (1 Pet. 1:18-19). Die verheerlikte kerk sal die Here Jesus rondom die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).
Nadat Israel uit Farao se mag verlos is, het hulle dadelik uit Egipte weggetrek na ʼn nuwe bestemming. Nadat ons uit die mag van Satan bevry en uit die duisternis oorgekom het tot die lig, vertrek ons in ons nuwe lewe op ʼn reis om die Here se doel met ons lewe te verwesenlik. Ons bewandel die pad van toenemende heiligmaking waarop ons voortdurend voor nuwe uitdagings te staan kom en sterker word in die Here. Ons verlossing is dus net die begin van ʼn lang reis van geestelike groei waarop ons moet volhard totdat al die wonderlike beloftes van die Here in ons lewe in vervulling gegaan het.
Kort nadat Israel uit Egipte bevry is, is hulle deur ʼn ander vyand gekonfronteer en aangeval, naamlik die Amalekiete. Gewapende ruiters van Ámalek het die Israeliete wat stadig gevorder en agter geraak het, ingehaal en doodgemaak. Die vyand het dus binne-in die laer ingekom en die agterste persone aangeval wat vir hulle die maklikste teiken was. Ámalek is ʼn tipe van die duiwel wat God se volk van binne af aanval, daarom is hy ʼn voorstelling van die inwonende sondige natuur wat oorwin moet word. Farao is ʼn tipe van die duiwel wat mense van buite af aanval, wil oorheers, verslaaf en doodmaak. Nadat die Here vir Israel van Farao verlos en sy mag oor hulle gebreek het, moes hulle ook dringend oorwinning behaal oor die vyand van binne.
In die Nuwe Testament is ons as gelowiges in dieselfde situasie. Nadat ʼn persoon van Satansmag bevry en gered is, het die duiwel nog steeds ʼn bondgenoot in sy lewe, naamlik sy ou, sondige natuur. Die duiwel werk dus van binne af deur die vlees om ʼn gelowige geestelik aan te val, lam te lê en onvrugbaar te maak. Ons moet ook teen hierdie vyand van binne oorwinning verkry as ons geestelik wil vorder.
Israel het by Ráfidim gekom waar water uit die rots gevloei het. Hier is hulle innerlik verkwik, het oorwinning oor Ámalek behaal, en is rus gegun ná die vyandelike aanvalle. God het vir sy volk ʼn rots geklief en ʼn stroom water voorsien waaruit hulle kon drink. Hierna het daar ʼn groot wending in hulle stryd teen die vyand gekom en het hulle ʼn klinkende oorwinning behaal. Die stryd teen Ámalek was besonder hewig. Wanneer Moses sy hande seënend omhoog gehou het, het Josua en sy manskappe vir Ámalek teruggedryf. Wanneer Moses sy hande laat sak het, is Josua weer deur Ámalek teruggedryf. Dit is ʼn tipiese situasie van val en opstaan. As ʼn oplossing hiervoor het Aäron en Hur Moses se hande omhoog gehou en is Ámalek deur die skerpte van die swaard ʼn neerlaag toegedien. Aäron, die priester, is die verpersoonliking van gebed, terwyl Hur witheid, reinheid, of heiligheid beteken. Die stryd teen die vlees kan nie gewen word sonder voortdurende gebed en ʼn oorgawe tot heiligheid nie.
Paulus sê in 1 Korinthiërs 10:4 dat die gekliefde rots op Christus dui. Die stroom water dui op die uitstorting van die Heilige Gees nadat die Here Jesus se liggaam aan die kruis dodelik verwond is, en Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het. Hy nooi almal van ons om uit hierdie stroom te drink en geestelik verkwik te word: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).
Deur die kruisdood van die Here Jesus en die vervulling met die Heilige Gees, kan ons oorwinning behaal oor ons inwonende, sondige natuur. Dit moet met aanhoudende gebed en ʼn heilige lewenswandel gepaard gaan. Hou aan met geestelike oorlogvoering totdat Ámalek beslissend verslaan is. Hierna kan jy ook rus in die Here en in sy sterkte omdat die tweestryd tussen die Gees en die vlees verby is. Ámalek sal weer probeer terugkom om die vlees te laat herleef, maar as jou verhouding met die Here reg is, sal hy nooit weer beheer oor jou kan kry nie. Volhard net op die pad van gebed en heiligmaking en gee aan die duiwel geen plek nie.
Dit is opvallend dat die stryd teen Ámalek nooit ophou nie, maar van geslag tot geslag voortduur: “Oorlog het die Here teen Ámalek van geslag tot geslag” (Ex. 17:16). Elke nuwe geslag mense moet van die inwonende, sondige natuur verlos word. Daarna moet die weerstand teen die vlees nie verslap word nie, omdat dit gekruisig moet bly en nie toegelaat moet word om weer sy verlore beheer oor ons lewe terug te kry nie. Die Here Jesus het gesê dat dit daaglikse toewyding vereis: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Wanneer Ámalek verslaan is en ons die oorwinnende lewe deelagtig geword het, moet ons voortdurend aan die gekruisigde Christus gelykvormig bly sodat ons ononderbroke deur die Gees sal wandel, en nie deur die vlees nie.
Wanneer die Heilige Gees in sy volheid beheer oor ʼn persoon se lewe verkry en aan hom krag gee om sonde te oorwin, lei Hy die persoon ook om ʼn dieper kennis van die Here se Woord op te doen. Die Here Jesus het gesê: “[W]anneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13). Dieselfde beginsel het ook vir Israel gegeld, sodat die ware gelowiges onder hulle kon sê: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11). Die woorde van die Verlosser is Gees en lewe (Joh. 6:63), dit vorm ons geloof en denke en lei ons in ons besluite en optrede.
Die bevryde volk van God het op die vyftigste dag ná hulle uittog uit Egipte by Sinai aangekom en omtrent ʼn jaar lank hier vertoef. ʼn Nuwe lewe het op hulle as die Uitverkore Volk gewag, en hiervoor moes nuwe lewensbeginsels by hulle ingeskerp word. Hulle moes die wet van die Here deeglik leer ken en nougeset daarvolgens lewe. Indien hulle al die geestelike lesse van geloof, gebed, oorwinning oor die mag van Satan en heiligmaking ter harte sou geneem het, sou Sinai vir hulle ʼn heerlike ondervinding gewees het. Met net geringe uitsonderings is die teendeel ongelukkig waar. Die meeste van hulle was vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog by die vleispotte van Egipte was. Toe Moses te lank na die volk se sin op die berg gebly het om die wet van die Here te kry, het hulle ʼn goue kalf gemaak, voor dié gruwelike gedrog gedans, dit geëer en beweer dat dit hulle god was wat hulle uit Egipteland gelei het (Ex. 32:1-6). Dit is totaal en al ondenkbaar, maar nogtans hét dit gebeur. Dit is waarom die Here sê dat Israel se geestelike dwalings as ʼn waarskuwing opgeteken is aan ons, op wie die eindes van die eeue gekom het. As ons in vormgodsdiens verval en die Here deur ons optrede smaad, sal sy toorn oor ons ontvlam. Ons kan nie voor afgode soos Mammon neerbuig en dink dat die Here daarmee genoeë sal neem nie.
Die geestelike betekenis van Sinai is dat die Woord van die Here nie met ink nie, maar deur sy Gees op die tafels van ons harte geskryf moet word. Die gevolg hiervan moet wees dat ons lewe soos ʼn brief van Christus sal wees wat deur die wêreld gelees kan word (2 Kor. 3:3). Ons moet in die genade en kennis van Christus toeneem (2 Pet. 3:18), sodat ons ʼn werkende kennis van die Woord van God sal hê. Ons moet ons in voortgesette Bybelstudie verdiep nadat ons ʼn volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word. Of ons ʼn formele studie van die Bybel maak deur vir een of ander kursus in te skryf, en of ons dit informeel deur selfstudie doen, maak nie regtig saak nie. Die feit is net dat ons ʼn sistematiese studie van die Woord van God móét maak; dan kan die Here ons ook gebruik. Het jy die Woord van die Here al bestudeer sodat jou voetstappe daarin geanker kan wees? “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon” (Kol. 3:16), want dan sal julle dit ook met goeie gevolg aan ander kan verkondig.
Israel het nie die geestelike lesse ter harte geneem wat hulle tydens hulle trek deur die woestyn geleer het nie, daarom was hulle nie reg ingestel om die uitdagings die hoof te bied wat op die grens van die Beloofde Land op hulle gewag het nie. Moses het twaalf verspieders uitgestuur om die land te gaan verken en dan terug te rapporteer. Josua was een van hierdie verspieders (Num. 13:17-20). Die groot meerderheid van die verkenners (tien van die twaalf) het bevrees geword vir die inwoners van die land en Israel afgeraai om die land in besit te neem. Ná die 40 dae van verkenning het hulle só aan Moses verslag gedoen:
“Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het” (Num. 13:27-32).
Josua en Kaleb het egter die volk moed ingepraat en probeer om hulle vertroue in die almag van God te herstel: “En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n buitengewoon goeie land. As die Here ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word” (Num. 14:6-10).
Moses het ook bevestig wat Josua en Kaleb gesê het: “Die Here julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het. Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die Here julle God nie” (Deut. 1:30-32).
Die groot aantal Israeliete wat nie geglo het dat God die land Kanaän aan hulle kon gee nie, het weens hulle ongeloof die beloftes van die Here verbeur en daardie geslag het in die woestyn gesterf. Net lede van die jong geslag het onder die leiding van Josua ’n nuwe oorgawe aan die Here gemaak en was waardig om die land in besit te neem. Die verkenning van die Beloofde Land was ʼn baie belangrike keerpunt op Israel se reis uit Egipte. Indien die volk die Here se onderwysing aanvaar en hulle geloofslewe daarby aangepas het, sou hulle in hierdie stadium geestelik sterk gewees het en goed voorbereid om die volgende groot uitdaging te aanvaar. Dit was egter vir ongelowige Israel verkiesliker om permanent in die woestyn te vertoef, eerder as om hulle erfenis oorkant die Jordaan saam met die Here in besit te neem. Baie van hulle was selfs bereid om eerder na Egipte terug te gaan en weer slawe van Farao te word. Hulle het die maklike uitweg van geen weerstand verkies, en as gevolg daarvan hulleself geestelik verarm, tot op die punt van onwaardigheid om die Here se beloftes van ryke seën te beërf.
Die moderne Christendom is in presies dieselfde situasie. Ons beskou onsself as Christene wat reeds uit die “Egipte” van ’n sondige verlede verlos is. Soos in die geval van Israel, is baie van die lidmate van Christelike kerke net vormgodsdienstiges sonder ’n getuienis van wedergeboorte. Hulle is meelopers wat net ’n uiterlike gedaante van godsaligheid het, maar meestal in stryd met God se Woord optree. Die ander is wel gered, maar nog in die babaskoene van hulle geloofslewe. Net ’n klein groepie is geestelik volwasse omdat hulle van heiligmaking ná bekering kan getuig, en doelgerig voortgaan om in die geloof die beloftes van die Here aan te neem.
Die geestelike probleme en insigloosheid van die meerderheid gelowiges lei daartoe dat hulle oormatig afhanklik is van godsdienstige leiers, en slegs op hulle vertrou om die roete aan te dui. Soos Israel, stuur hulle ook verkenners uit om die pad vorentoe te ondersoek en dan advies oor gepaste optrede deur te gee. Hierdie verkenners, die godsdiensleiers, maak daarop aanspraak dat hulle die kennis het om die regte aanbevelings aan die mense voor te lê. Hulle verken die teologiese landskap deur die Bybel te bestudeer, bied riglyne aan oor hoe God se beloftes in sy Woord vertolk moet word, stel leerstellings op, en doen oplossings aan die hand oor hoe krisisse hanteer moet word. Die leerstellings van sommige kerkvaders soos bv. Origenes, Augustinus, Calvyn, Luther, Wesley, e.a. word al eeue lank nagevolg, en die invloed hiervan moenie onderskat word nie – sommiges van hulle het Bybelse waarhede verkondig, terwyl ander weer ongeloof en dwalings bevorder het.
Dit is juis op die teologiese terrein dat die duiwel oor baie jare heen aansienlike invloed verkry het deur miljoene mense te mislei, geestelik te beroof en op ’n verkeerde pad te plaas; en dié aanslag neem fel toe. Net soos in die geval van Israel, gee die meerderheid van die moderne verkenners verkeerde advies aan die mense. Hulle fokus nie op volle verlossing in Christus nie en beskou daarom die land Kanaän, naamlik die oorwinningslewe, as ’n totaal onbereikbare ideaal en sê aan hulle volgelinge dat hulle swak mense is wat nooit volkome oorwinning oor sonde en vleeslikheid sal verkry nie. Die vyand word beskou as te sterk vir hulle, daarom moet hulle hulself versoen met die gedagte dat hulle maar altyd woestynbewoners sal wees – niks meer nie. Hulle is tog uit Egipte verlos en moet daarby berus. Gelowiges moet nie na die dieper lewe soek nie, want dit is nie vir hulle beskore nie.
Erken jy hierdie soort taal wat nie net fatalisties is nie, maar ook getuig van ongeloof oor verskeie Bybelse beloftes? Sulke teoloë, en kerkvaders, ondermyn die geloofwaardigheid van die Bybel omdat hulle hoofsaaklik op ontkenning ingestel is. Nie almal van hulle ontken alle Bybelse leerstellings nie, aangesien sommige van hulle wel die verlossingsleer erken, soos uitgebeeld deur Israel se verlossing uit Egipte. Hulle volstaan egter hierby, ontken dat daar nog ʼn verdere oorgang na die Land van Belofte is, en sluit hulleself sodoende van talle Bybelse beloftes uit. Weens hulle selfopgelegde teologiese beperkings ontken hulle die volgende leerstellings en beloftes in die Bybel, want hulle beweer reguit: Daar is nie ’n verdere genadewerk van hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees nie omdat alle Christene reeds die Gees in sy volheid ontvang het; daar is nie so iets soos vleeslike Christene wat hoofsaaklik deur die vlees wandel nie; daar is nie ʼn wegraping, ʼn persoonlike Antichris of ʼn letterlike verdrukking van sewe jaar nie; Israel is nie meer God se volk nie en die herstel van moderne Israel het niks met die Bybel te doen nie; die troon van Dawid sal nie in Jerusalem herstel word nie en daar sal ook nie ʼn duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus wees nie. Hierdie groep teologiese verkenners erken Jesus Christus wel as Verlosser, maar is nie met die Heilige Gees vervul nie, verstaan glad nie die volle raad van God nie, en berus volkome by die woestynlewe met sy geestelike armoede en sukkelbestaan. Hulle verstaan ook nie Bybelse profesieë nie.
Soos wat geestelike verval toeneem, word die lys van teologiese ontkennings net langer en die verval neem al hoe groter afmetings aan. Die volgende is nuwe toevoegings tot die lys, en daardeur word die basiese fondamente van die Christelike geloof heeltemal omgekeer (vgl. Ps. 11:3): Volgens moderne afvalliges is daar nie so iets soos wedergeboorte nie omdat mense op ’n ritualistiese wyse gered word deur die doop; Christus is nie maagdelik gebore nie; Hy is nie God nie; sy kruisiging was ʼn politieke daad wat niks met die vergifnis van sonde te doen het nie; Hy het nie uit die dood opgestaan nie en dus ook nie na die hemel opgevaar nie; Hy is nie die enigste Verlosser nie omdat daar ook baie ander messiasse in die wêreldgodsdienste is; die Bybel is nie die geïnspireerde en foutlose Woord van God nie; daar is nie ʼn hemel of ʼn hel nie en ook nie ʼn duiwel nie; sonde is ʼn relatiewe begrip en elkeen kan vir homself besluit wat reg en verkeerd is. Hierdie groep teologiese verkenners is van mening dat dit ʼn fout was vir Israel om uit Egipte weg te trek en hulleself tot ʼn miserabele woestynlewe te beperk. Hulle is ten gunste van ʼn terugkeer na Egipte en die aanvaarding van ʼn intergeloofsoriëntasie. Godsdienstige denke van hierdie aard verteenwoordig die oorgang vanaf ʼn swak geloof na totale ongeloof. Uiterste geloofsverval is volgens die Bybel die gevolg van demonies geïnspireerde misleiding, en dit is veral kenmerkend van die eindtyd kort voor die wederkoms van Christus (1 Tim. 4:1).
Teenoor die groot groep dwalendes is daar ’n klein groepie gelowige verkenners wat goeie raad uit die Woord van God gee. Hulle doen hulle bes om geloof in die almag van God en die waarheid van sy beloftes te bevorder. Daar is immers ’n Beloofde Land om in besit te neem, en dit kom op wantroue in God neer indien ons sou weier om sy beloftes in die geloof aan te neem en Hom vir ’n volle verlossing en volkome heiligmaking te vertrou (vgl. 1 Thess. 5:23). Waarom sou Hy ’n land (of lewe) aan ons belowe waar ons vry van oorheersing deur ons vyande kan leef, indien dit onmoontlik is om oorwinnings in sy Naam te behaal? Ons sal onsself geestelik drasties verarm indien ons ons nie verootmoedig en op die vervulling met krag uit die hoogte wag nie, want dit is die sleutel tot oorwinning oor al ons vyande.
Die twee betroubare verspieders is deur die volk verwerp en daar was selfs ʼn oproep om hulle dood te maak. Dit is vandag ook so, daarom is daar dikwels ʼn groot mate van antagonisme en negatiewe emosies tussen lidmate en leiers van verskillende denominasies. Predikers wat sterk op evangeliese beginsels staan, en dit sluit die dieper genadewerk van heiligmaking in, is meestal nie populêre geestelike leiers nie. In hulle verkenning van die geestelike landskap is hulle ten volle bewus van die groot mag van die vyand. Dit beïnvloed egter nie hulle siening oor die pad vorentoe negatief nie, want hulle is ook bewus van ʼn nog groter waarheid, naamlik die almag van God om sy Woord te vervul en al sy beloftes waar te maak. Hy kan en wil van almal van ons meer as oorwinnaars maak.
Die kerk van die eindtyd is in drie uiteenlopende groepe verdeel. Sommige lidmate is vormgodsdienstiges wat net met hulle verstand glo en dus steeds in Egipte is omdat hulle nog nie deur die bloed van die Lam losgekoop is nie. ʼn Ander groep is wel uit hulle sondige verlede gered, maar bevind hulleself in die sukkelbestaan van ʼn woestynlewe omdat hulle nog nie heiligmaking deelagtig geword het nie. Net ʼn kleiner, derde groep bevind hulleself in die Beloofde Land van ʼn oorwinnende geestelike lewe. In baie gevalle is daar verteenwoordigers van al drie hierdie groepe in dieselfde gemeente – ongereddes, vleeslikes én geestelikes.
As gevolg van die lae geestelike standaard wat so algemeen in die wêreld voorkom, bid verskeie van die toegewyde Christene ernstig tot die Here dat Hy herlewing aan die kerk sal skenk – dat die geestelikes onder hulle opnuut vervul sal word met krag uit die hoogte om die Here met groter ywer te dien; dat die vleeslikes ʼn volle oorgawe sal maak sodat hulle die oorwinning kan beleef wat die Here aan almal van ons belowe; en dat die ongereddes gered sal word. Ons leef in ʼn tyd waarin dié wat onreg doen nog meer onreg doen, maar waarin die heiliges opgeroep word om nog heiliger te word (Op. 22:11).
As gevolg van die groter eise wat daar in die eindtyd weens toenemende goddeloosheid aan Christenskap gestel word, moet kinders van die Here sorg dat hulle nie verflou in hulle ywer nie. Die Here Jesus het ons teen hierdie moeilike tydsomstandighede gewaarsku: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Ons moet ons nie soos Petrus op sy nagtelike vaart deur die stormsee, blind staar teen die donker golwe rondom ons nie, maar die oë op Jesus gevestig hou en sy koms verwag: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom [Christus met sy wederkoms] het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).
Terwyl ons op die koms van die hemelse Bruidegom wag, moet ons baie seker maak dat ons nie geestelik op ʼn dwaalspoor beland en iewers in die woestyn van ʼn vleeslike of wêreldse leefwyse rondswerf nie. Om in ʼn Nuwe-Testamentiese sin in die Beloofde Land te wees, beteken dat ons al die Here Jesus se beloftes oor redding en heiligmaking sal aanneem en Hom daagliks sal navolg (1 Joh. 2:6). Dit sal ons in staat stel om volwasse Christene te word wat ʼn oorwinnende stryd teen ons geestelike vyande voer. Die sleutel tot ʼn lewe van oorwinning en vrugbare diens is getrouheid aan ons Verlosser. Johannes sê: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ʼn volle loon ontvang. Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. 1:8-9).
Mag die Here ons help om in die leer van Christus te bly deur altyd sy Godheid, almag en genadewerk te erken, en daagliks toe te neem in sy genade en kennis (2 Pet. 3:18). Wanneer Hy meer word in ons harte, in ons lewens én in ons gemeentes, sal ons op ʼn oortuigende wyse kan uitreik na vleeslike Christene wat nog doelloos in ʼn geestelike woestyn rondswerf, en ook na ʼn ongeredde wêreld wat die slagoffers is van hulle eie ongeloof.