Johan Malan, Mosselbaai (September 2013)
In Levítikus 23 is daar aan Israel ’n reeks van sewe profetiese feeste gegee wat gevier moes word in afwagting op die koms van die Messias en die vestiging van sy Israelgebaseerde wêreldkoninkryk. Benewens die sewe feeste wat elke jaar in ’n vaste volgorde gevier moet word, bevat hierdie hoofstuk ook bepalings oor ’n ander voorbereidende Messiasfees, naamlik die weeklikse Sabbat.
Israel is die volk waardeur God Homself aan die wêreld geopenbaar het, en die belangrikste van hierdie openbarings was die menswording van sy Seun as Verlosser en Messias. Deur middel van al die Ou-Testamentiese feeste, Sabbatsvierings en die tempeldiens met sy uitgebreide offerstelsel, is Israel op die aanbreek van die Messiaanse era voorberei. Op ’n bepaalde tyd in die toekoms sou die skadu’s van al die profetiese feeste en godsdienstige rituele ’n heerlike werklikheid word met die geboorte van die Messias en die openbaring van sy evangelie van verlossing. Hierdie belangrike openbarings sal met die wederkoms van Jesus Christus voortgesit word totdat al sewe die feeste vervul en die Messias se koninkryk wêreldwyd gevestig is.
Die sewe feeste kan in drie groepe verdeel word, naamlik:
· Die Paasfees: die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood in die lentemaand.
· Die Fees van die Eerstelinge: die heiliging van die eerstelingsgerf, wat 50 dae later gevolg word deur die Pinksterfees wanneer twee beweegbrode geoffer word. Dit vind aan die begin van die oesseisoen plaas en staan saam as die Fees van die Weke bekend.
· Die Oesfees: die Fees van Basuine, die Groot Versoendag en die Loofhuttefees in die herfsmaand wanneer die oes klaar ingesamel is.
Jesus Christus is die Paaslam wat geslag is om die lente van ’n nuwe lewe in te lui vir almal wat in Hom glo. Hy is die ongesuurde (sondelose) brood van die lewe waardeur ons geestelik gevoed word en tot volwassenheid opgroei. As die eersteling wat uit die dood opgestaan het, was Hy die eerste in ’n groot oes wat sedertdien vir die koninkryk van die hemel ingesamel word. Vyftig dae ná Christus se opstanding is die Heilige Gees uitgestort om gelowiges te wederbaar, te heilig en te bekragtig om getuies vir die Here Jesus te wees deur arbeid in sy oeslande. Aan die einde van die wêreldwye oesseisoen sal Christus self sy bruidsgemeente met basuingeklank kom haal. Daarna sal ongereddes in Israel en die nasies in ’n tyd van groot benoudheid kom, waarna ’n oorblyfsel van hulle met die Messias versoen sal word wanneer Hy op die Groot Versoendag terugkeer. Die Loofhuttefees het ’n toekomsperspektief op die duisendjarige vrederyk wat deur vrede, voorspoed en die blydskap van die Here gekenmerk sal word.
Dit is belangrik om die profetiese betekenis van die feeste raak te sien en dienooreenkomstig op te tree. Die vervulling van die eerste vier feeste tydens die soendood, begrafnis en opstanding van die Messias, asook die uitstorting van die Heilige Gees, plaas ’n verantwoordelikheid op alle gelowiges om in die lig daarvan, as Christene wat in al hierdie seëninge deel, op ’n toegewyde manier te leef. Diegene wat nalaat om die oorgang vanaf skaduagtige gebruike na die werklikheid te maak, verloën die Messias as die vervulling van hierdie feeste. Hulle toon min of geen begrip vir die progressiewe openbaring van God se raadsplan vir die mens, en sal gevolglik ook nie profesieë oor die wederkoms van die Messias reg verstaan nie. In die gebeure rondom sy tweede koms sal die laaste drie feeste vervul word wanneer Hy as Bruidegom, Regter en Koning geopenbaar sal word.
Daar moet dus ten alle tye ’n duidelike onderskeid getref word tussen skaduagtige, Ou-Testamentiese feeste en die Nuwe-Testamentiese vervulling daarvan. Niemand mag gekritiseer of veroordeel word omdat hy of sy nie die Ou-Testamentiese feeste, nuwemane of Sabbatte wil onderhou nie,“wat skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Al hierdie seremoniële feeste is in Christus vervul, daarom vier ons net die Christelike Paasfees, die Christelike Nagmaal, die Christelike Pinksterfees, en huldig ons ’n premillennialistiese, Christelike toekomsverwagting wat die einde van die huidige bedeling betref. Ons is bevoorreg om in die tyd van die vervulling van hierdie feeste te leef.
Die bloudruk vir die toekomstige, chronologiese vervulling van die feeste is nietemin in die Ou-Testamentiese feeste vasgelê en moet dus terdeë in ag geneem word. Israel se historiese ongehoorsaamheid was nie permanent nie; daarom voorspel die laaste twee feeste ’n groot en wonderlike toekoms vir God se volk. Daar wag wel in die eindtyd groot benoudheid op hulle, maar in die dieptes van hulle benoudheid sal hierdie volk na die Messias gedryf word.
Dit is vanselfsprekend dat die meerderheid Israeliete se weiering om die vervulling van die eerste vier feeste tydens die Messias se eerste koms raak te sien, en ook die laaste drie feeste met sy wederkoms as Koning van die konings in verband te bring, ernstige negatiewe implikasies inhou. Ons moet op die nadelige gevolge hiervan let, want die blote navolging van godsdienstige rituele sonder om dit uitdruklik met die Messias in verband te bring, lei na ’n lewelose vormgodsdiens waardeur mense in werklikheid van God vervreem raak. Wanneer dit gedoen word, sal die viering van die sewe feeste vir niemand tot enige nut of seën wees nie.
Die Messias is Israel se Verlosser én Koning. Indien hulle Hom tydens sy eerste koms ten volle aanvaar het, sou Israel se beloofde Messiaanse koninkryk dadelik aangebreek het. Dit sou meegebring het dat Jesus as Koning op die herstelde troon van Dawid in Jerusalem sou regeer, soos wat die engel vir Maria beloof het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32).
Met die oog hierop het Johannes die Doper én Jesus die Joodse volk tot bekering opgeroep sodat hulle die koninkryk kon beërf: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt. 3:2; 4:17). Die dissipels het in daardie vroeë stadium van Jesus se bediening dieselfde opdrag ten opsigte van Israel gekry, saam met koninkryksmagte om wonderwerke te doen: “Gaan ... na die verlore skape van die huis van Israel ... en sê: Die koninkryk van die hemel het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit” (Matt. 10:6-8).
Israel het egter nie op hierdie herhaalde oproepe ag geslaan nie, en inteendeel so agnosties daarop gereageer dat hulle as volk vir Jesus as Messias-Koning verwerp het. Groot rampe het as gevolg hiervan oor die Joodse volk en hulle stad, Jerusalem, gekom. Jesus het hulle teen ’n noodlottige gebrek aan insig gewaarsku: “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:44; vgl. Matt. 23:37; 24:1-2).
Weens Israel se ongeloof is die Messiaanse koninkryk wat aan hulle belowe is, egter nie nietig verklaar of op die kerk oorgedra nie, maar uitgestel tot aan die einde van die huidige bedeling van wêreldevangelisasie. Daarna sal die Here Jesus Homself weer as Messias-Koning aan Israel bied, en dan sal hulle Hom van harte aanvaar. Hy het vir die volksleiers gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Hy het ook gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Daar kom beslis tye van herstel en heropbou vir Jerusalem, en ons sien dit reeds voor ons oë gebeur. ’n Groot aantal Jode is terug in hulle land en baie van hulle sal die Messias aanneem wanneer Hy in tye van groot benoudheid terugkeer (Sag. 12:10).
Tydens Israel se verstrooiing en die vertrapping van Jerusalem, word die evangelie van die liefde en genade van God aan alle mense op aarde verkondig. Die Groot Opdrag het nie huidige koninkryksimplikasies nie, omdat ons tans in ’n bose wêreld leef wat in die mag van die duiwel is (1 Joh. 5:19; Ef. 6:12). Ons sien wel uit na ’n toekomstige koninkryk wanneer die Koning kom, maar leef nie hier en nou in die fisiese koninkryk van Christus nie. Spesiale koninkryksmagte word nie aan gesante van Christus verleen nie, omdat ons deur vele verdrukkinge ingaan in sy verborge koninkryk, wat eers ná sy wederkoms geopenbaar sal word.
Israel was nog altyd bestem om ’n sentrale posisie in die Messiaanse koninkryk te beklee, daarom is die koninkryksboodskap tydens Christus se eerste koms aan hulle toevertrou (Matt. 10:6-8). Weens hulle ongehoorsaamheid is die openbaring van die koninkryk uitgestel – nie afgestel nie. Tydens die komende verdrukking, wat ook as die tyd van benoudheid vir Jakob beskryf word (Jer. 30:7), sal geredde Jode weer die boodskap verkondig dat die Messias se koninkryk binnekort geopenbaar sal word: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14).
In Openbaring 7:1-8 word na die 144 000 spesiale Joodse evangeliste verwys wat die evangelie van die koninkryk in die komende verdrukking sal verkondig. Dit sal wêreldwyd tot ’n groot geestelike ontwaking onder alle nasies lei, soos blyk uit Openbaring 7:9-17. Israel se roeping is net tydelik opgeskort tydens die kerkdispensasie, maar in die eindtyd wanneer die laaste drie feeste vervul word, word die Joodse volk herstel om hulle roeping te kan vervul.
Die sewe feeste is God se feeste (Lev. 23:2) en werp lig op sy verlossingsplan vir die hele mensdom. Hoewel net Israel die eerste fase van die feeste tot en met die koms van die Messias onderhou het, is die feeste in hulle vervulde vorm vir alle mense op aarde bedoel. Die eerste van die jaarlikse feeste was die Pasga wat in die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender gevier is (Lev. 23:5; Ex. 12:5-7,12-13). Dit was die lentemaand in die Noordelike Halfrond – gewoonlik Maart of April op die Gregoriaanse sonkalender. Die vervulling van hierdie fees was 1 500 jaar later tydens die kruisdood van Jesus (vgl. 1 Pet. 1:18-19).
In Ou-Testamentiese tye het God reeds ten opsigte van die Messias en die wêreldwye strekking van sy verlossingswerk gesê: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig vir die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Paulus het hierdie uitspraak as regverdiging gebruik vir sy besluit om die evangelie van verlossing aan die nie-Joodse volke te verkondig nadat Israel dit verwerp het (Hand. 13:46-47). Johannes die Doper het na Jesus verwys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29). Nadat die Here Jesus deur Israel verwerp is, gekruisig is en uit die dood opgestaan het, het Hy sy dissipels in die Groot Opdrag beveel om die evangelie oral te verkondig en van alle nasies dissipels te maak (Matt. 28:19).
Die Ou-Testamentiese Pasga is deur die Nuwe-Testamentiese Paasfees én Nagmaal vervang, wanneer Christene die soendood van die Lam van God aan die kruis in herinnering roep en opnuut vir die voortgesette reiniging deur sy bloed bid (1 Joh. 1:7). Deur hierdie gebruik verkondig ons “die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Daar moes dus altyd ’n perspektief op sy wederkoms wees, wanneer die oorblywende feeste vervul sal word.
Die tweede fees, ’n Paasfeesmaal, is ’n direkte uitvloeisel van die Paasoffer en dui op volkome identifikasie met die Lam wat geslag is. Die vleis van die Paaslammers wat in Egipte geslag is, moes gebraai en saam met ongesuurde brood en bitter kruie geëet word (Ex. 12:8). Die vuur en bitter kruie dui profeties op die lyding en dood waardeur Christus moes gaan om sondaars vry te koop. Die ongesuurde brood dui op sy sondelose lewe, en dit moet by ons ’n vaste voorneme wees om onsself van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig (2 Kor. 7:1).
Volgens die bepalings van hierdie fees moes die Israeliete vir sewe dae lank ongesuurde brood eet terwyl hulle hulself ondersoek en reinig (Lev. 23:6). Slegs op hierdie manier sou hulle die geestelike bevryding van die Paasfees ten volle deelagtig kon word, en ook krag verkry vir die moeilike reis wat voorgelê het.
Aangesien Jesus Christus die Lam van God is wat vir die sonde van die hele wêreld geslag is, word alle Christene opgeroep om ten volle met Hom te identifiseer in “die gemeenskap aan sy lyde terwyl [hulle] aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Alle sonde moet uit hulle lewe geweer word. Paulus sê vir ’n gemeente in Korinthe: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8). Christene vier hierdie fees nie net tydens Paasnaweek nie, maar voor en tydens elke Nagmaal wanneer hulle die dood van God se Lam herdenk en met verwagting uitsien na sy wederkoms.
Hierdie fees is wesenlik ’n oproep tot heiligmaking. Nie net Israel nie, maar ook alle gelowiges oral, moet aan God se beeld van heiligheid en geregtigheid gelykvormig word omdat die mens aanvanklik na die beeld van God geskape is. Die sondeval het die mensdom egter geestelik en moreel verdorwe gemaak, maar deur Christus se genadewerk wil God sy beeld in ons lewens herstel: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16; vgl. Lev. 11:44). Jesus Christus is self die beeld van heiligheid waarna ons moet streef, totdat Hy volle gestalte in ons lewe verkry.
Die Sondagoggend toe Jesus uit die graf opgestaan het, was dit ook die dag van die Fees van die Eerstelinge. God het spesifiek bepaal dat hierdie fees op die dag ná die Sabbat gevier moes word, m.a.w. op ’n Sondag, en dat dit geestelik die baie belangrike betekenis sou hê om die volk vir Hom welgevallig te maak (Lev. 23:10-11). Deur die opstanding van Jesus uit die dood is die betekenis van hierdie fees vervul: “As Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. ... Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:17-20).
Jesus Christus het die graf en dood oorwin, en van dié Sondag af het hierdie boodskap toenemend oor die hele wêreld weerklink: “Hy het opgestaan! Hy leef!” Christene oral op aarde vier nie alleen die opstandingsfees op Paassondag nie, maar ook op elke Sondag regdeur die jaar. Christus is die sentrale Persoon in die vervulling van al sewe die feeste, maar op hierdie fees het die Paasgebeure ’n konkrete, lewende werklikheid geword wat gebied word aan almal wat in Hom glo. Die Messias self is die Sabbatsrus wat geestelik ervaar word deur al sy volgelinge.
Dit is die rede waarom die weeklikse Sabbat in Levítikus voorgeskryf word in samehang met die sewe Messiaanse feeste wat jaarliks gevier moes word. Dit was ’n wesenlike deel van die voorbereidings om die Here se rus in die Messias in te gaan en sy heiligheid deelagtig te word. Die Sabbat op die sewende dag is ook net aan Israel voorgeskryf – nie aan die kerk nie: “Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig” (Ex. 31:13).
Op die Sondagoggend toe Jesus uit die dood opgestaan het, het die klem egter verskuif vanaf die wettiese Joodse Sabbat op die sewende dag van die week, na die geestelike bevryding van die Verlosser op die eerste dag van die week. Dit is die rede waarom hierdie fees bepaal is vir “die dag ná die Sabbat” (Lev. 23:11). Op die Sabbat is daar vooruitgekyk na die koms van die Messias om Israel te bevry, maar op die Sondag van ’n nuwe week word daar teruggekyk na die koms van die Messias wat die wet en die Sabbat vervul en die bedeling van die wet afgesluit het. Die Christelike kerk het eers ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus tot stand gekom, en was dus nooit deel van Israel se voorbereidende fase toe die wet en die Sabbat nog gegeld het nie (vgl. Rom. 6:14).
Sondagaanbidding het reg van die begin van die Christelike kerk af gegeld: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand. 20:7; vgl. 1 Kor. 16:2). Dit is ’n Christelike gebruik wat wêreldwyd gevestig is, en wat deurlopend in verband gebring word met die sterwe en opstanding van Jesus Christus. Ons moet aan sy dood én opstanding gelykvormig word (Rom. 6:5; Fil. 3:10), daarom moet ons Hom nie net vir die vergifnis en afsterwe van sonde vertrou nie, maar ook vir gelykvormigheid aan sy opstandingslewe – ’n lewe van oorwinning oor sonde.
Die Pinksterfees word 50 dae ná die Fees van die Eerstelinge (die Opstandingsfees) gevier, en spesifiek ook op ’n Sondag – die dag ná die Sabbat (Lev. 23:15-16). In Ou-Testamentiese tye het Israel die wet (Tora) tydens hierdie fees herdenk omdat hulle op die 50ste dag ná hulle uittog uit Egipte by Sinai aangekom het. Met die aanbreek van die Messiaanse bedeling is Jesus as die vleesgeworde Woord van God geopenbaar (Joh. 1:14; Op. 19:13) om alle mense uit die Egipte van hulle sondige verlede uit te lei. Op die vyftigste dag ná sy opstanding uit die dood is die Heilige Gees uitgestort om ons te herinner aan alles wat Jesus gesê en gedoen het (Joh. 14:26). Op hierdie wyse het die Heilige Gees nie net die Woord in die Bybelskrywers se harte geopenbaar nie (2 Pet. 1:21), maar Hy maak dit ook lewend en kragtig in ons harte (Heb. 4:12).
Die uitstorting van die Heilige Gees was die formele begin van die kerkbedeling met sy wêreldwye missie. Op daardie dag is die evangelie deur Geesvervulde dissipels in verskeie tale verkondig, as ’n aanduiding dat die goeie nuus van die Here Jesus se reddende genade vir alle mense op aarde bedoel is. Israel se bemiddelingsrol het weens hulle ongeloof tydelik tot ’n einde gekom, en hierna het ook die tempel in Jerusalem as ’n plek van Godsopenbaring in onbruik geraak. Die doel van offers het verval en elke ware Christen is nou ’n tempel van die Heilige Gees, m.a.w. ’n geroepe getuie van Jesus Christus deur wie Hy met ander praat.
Dit beteken egter nie dat Israel se rol in God se raadsplan vir die mensdom hiermee beëindig is nie, want die laaste twee feeste kyk vooruit na ’n wonderlike versoening tussen die Messias en die verbondsvolk, Israel, en ook na die baie belangrike rol wat hulle in die Messiaanse ryk op aarde sal speel. Totdat dit gebeur, moet die kerkbedeling sy gang gaan en die evangelie steeds na al die eindes van die aarde uitgedra word.
In die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender (gewoonlik in September) is dit die einde van die oesseisoen en dit word ingelui deur ’n heilige dag van basuingeklank (Lev. 23:24). Dit is ook die Nuwejaarsdag (Rosh Hashanah) op hulle siviele kalender. Die jaarlikse insameling van die oes in Israel dui profeties op die eindtydse insameling van ’n oes onder alle nasies vir God se koninkryk. Die Fees van Basuine sal vervul word wanneer Jesus Christus alle gelowiges in die hemel versamel. Paulus sê: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).
Wanneer hierdie basuin blaas, sal die opstanding van die regverdiges plaasvind; dan sal dié wat nog lewe in ’n oogwink na onsterflikheid verander word en saam met die ontslape heiliges wat opgewek is, verheerlikte liggame kry (1 Kor. 15:51-53; Luk. 14:14). Skielik sal hulle plekke hier op aarde leeg wees, want in ’n enkele oomblik sal hulle spoorloos verdwyn – weggevoer deur die hemelse Bruidegom.
Almal wat agterbly (ook in sommige kerke waar min lidmate vermis sal word), sal sprakeloos en verbysterd wees ná hierdie dramatiese gebeurtenis. Die ongeredde, nie-Christelike wêreld sal glad nie verstaan wat gebeur het nie, en koorsagtig na verklarings vir dié vreemde verskynsel soek. Onder nominale en teruggevalle Christene – soos uitgebeeld deur die dwase maagde in Matthéüs 25:1-13 – sal die konsternasie nóg groter wees, met vrae soos die volgende: “Waarom het daar so baie ‘Christene’ agtergebly? ... Waarom is die belofte oor die wegraping en God se eis van heiligmaking nie in ons gemeente verkondig nie? ... Wat gaan nou op die aarde gebeur en waarom is Israel en Jerusalem so prominent in wêreldgebeure? ... Moes ons die Bybel meer letterlik verstaan het en gaan daar werklik ’n demoniesgeïnspireerde Antichris verskyn wat ’n verbond met alle nasies sal sluit om beheer oor die wêreld te verkry? ... Wat gaan van ons word as sy nommer afgedwing en almal verplig word om hom te aanbid? ... Is dit moontlik om die groot verdrukking en die slag van Armagéddon te kan oorleef? ... Sal ons in hierdie tyd nog gered kan word of is dit verby met ons?”
In Israel sal die ontnugtering net so groot wees. Die meeste lede van Messiaanse gemeentes in die land sal ook ná die wegraping soek wees. Sommige van hulle wend tans groot pogings aan om hulle Joodse volksgenote te bereik met die evangelie van Jeshua, die Messias van Israel, en hulle plaas selfs advertensies in groot koerante soos die Jerusalem Post. In die lig van tradisionele Joodse huweliksgebruike behoort ortodokse Jode te besef dat die Bruidegom sy bruid in die geheim kom haal het (sien http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Israel/Israel.5.htm).
Baie mense in Israel sal dan besef dat dit al oestyd in God se profetiese program is, maar hulle is nog nie gered nie. Hulle sal uitroep: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!” (Jer. 8:20). Deur ander Jode wat in daardie tyd van benoudheid gered sal word (vgl. Op. 7:1-8; 11:1-12), sal die Here hulle egter vertroos en laat verstaan dat hulle steeds deel van die hemelse oes kan word: “Ook vir jou, o Juda, is daar ’n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos. 6:11).
In Israel se jaarlikse feesprogram volg daar ná die 1ste en 2de Tisjri wanneer die Fees van Basuine saam met die Rosh Hashanah gevier word, die sogenaamde “sewe verskriklike dae” waarin gelowige Jode hulleself verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word gedoen as voorbereiding vir die Groot Versoendag wat op die 10de van Tisjri gevier word, sodat die Here hulle moet seën en nie verwerp en veroordeel nie. Hierdie sewe dae dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking, wat Daniël se 70ste jaarweek sal wees (Dan. 9:27). In tye van groot benoudheid sal Israel en die nasies óf die ware Messias soek en aanneem, óf tot hulle eie ondergang ’n verbond met die valse Messias sluit.
Die Groot Versoendag (Yom Kippur; Lev. 23:27) het betrekking op die sigbare wederkoms van die Messias aan die einde van die verdrukking, wanneer elke oog Hom sal sien (Sag. 14:4-5; Op. 1:7). Op daardie baie dramatiese dag sal die hele ongeredde oorblyfsel van Israel met die Messias versoen word (Sag. 12:10; Matt. 23:39), en sal ’n oorblyfsel van die nasies ook vir Christus as Verlosser en Koning aanvaar. Volgens Matthéüs 24:29-30 sal al die stamme van die aarde rou bedryf oor hulle sonde wanneer hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel.
Die Christene wat in daardie stadium reeds by Christus is, sal as sy verheerlikte kerk saam met Hom terugkeer na die aarde toe. Sagaría sê: “...dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Paulus sê: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).
Die koninkryk van die hemel sal dan geopenbaar word, want die Here Jesus kom terug as Koning van die konings (Op. 19:16; vgl. Op. 11:15). Gelowiges uit Israel én die nasies sal saam met Christus in sy vrederyk regeer. Vir agnostiese Jode wat Jesus as Messias verwerp het, is daar geen plek in hierdie koninkryk nie, al was hulle ook besnede en selftevrede lede van die verbondsvolk: “Maar Ek sê vir julle dat baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob sal aansit in die koninkryk van die hemele, maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis” (Matt. 8:11-12).
Daar is dus ook vir hierdie fees ’n wêreldwye vervulling in die vooruitsig wanneer Jesus Christus ten aanskoue van alle mense na die aarde terugkeer ná die donker dae van die verdrukking.
Aan die einde van die oestyd volg daar ’n vreugdefees waarin die Here vir al sy seëninge van die verlede en die hede gedank word (Lev. 23:34, 42-43). Tydens hierdie fees word daar egter ook vooruitgekyk na die beloofde tyd van vrede en voorspoed wanneer die Messias van die troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer (Luk. 1:32). Dit sal ook ’n tyd van ongekende ekonomiese welvaart wees: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat die ploeër die maaier sal inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees” (Amos 9:13).
Israel sal in hulle land herstel wees as die hoof van die nasies: “En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:12). Israel se geestelike blindheid het aanleiding gegee tot die verwerping en kruisiging van die Messias, asook die sendingopdrag, sodat al die nasies die evangelie kon hoor. Ons het hulle verwerpte geestelike erfenis gekry, daarom is ons oneindige dank aan hulle verskuldig. Paulus sê dat wanneer die hele Israel gered en rondom die Messias versamel is, hulle ’n nóg groter seën vir die nasies sal wees.
Die geestelike peil in die hele Israel sal hoog wees en sonder ’n skaduwee van halfhartigheid of twyfel: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here. Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hul sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).
Die vervulling van die Loofhuttefees sal ’n vreugdefees onder die geestelik herstelde Israel wees, en hulle sal die Here se spesiale getuies onder die nasies wees: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). Afgevaardigdes uit al die nasies sal gedurende die Millennium elke jaar die Loofhuttefees in Jerusalem bywoon; hulle sal “jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sag. 14:16).
Die nasies sal nie net die Here dien en eer nie, maar ook hulde aan Israel bring: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23). Hulle sal in vrede leef volgens die geestelike en staatkundige riglyne van die Koning van die konings, en daar sal geen rede vir militêre bewapening en oorlogvoering wees nie (Jes. 2:2-4).
Die Here het Israel geroep om in ’n verhouding met Hom te staan, heilig te lewe en sy spesiale getuies in die wêreld te wees. Hulle moes van die heidense nasies afgesonder en voorberei word sodat God se Seun na die vlees in die koninklike familie van Dawid gebore sou word. Hy sou verlossing aan Israel én die nasies bied en uiteindelik ’n regering van geregtigheid vir die hele wêreld vestig. Met die oog hierop het die Here aan Israel sewe feeste gegee wat elke jaar gevier moes word as vaste profetiese verwysingspunte na die koms van die Messias, asook na beloftes van ryke seëninge wat dit vir gelowiges in Israel en die nasies inhou.
Uiteindelik het die groot oomblik aangebreek toe die eerste fees ten opsigte van die slag van die Paaslam tydens die kruisiging van Jesus vervul is. Die feit dat Hy nie in die hoedanigheid as Lam van God deur die volksleiers van Israel aanvaar is nie, was terselfdertyd die geleentheid vir die wêreldwye toepassing van die feeste. Israel het hulleself as volk weens hulle nasionale ongeloof en blindheid tydelik buite God se raadsplan vir die mensdom bevind. Die dissipels is gevolglik na die nasies uitgestuur sodat húlle die seën van Jesus se reddende genade deelagtig kon word.
Die boodskap van die sewe feeste is die afgelope tweeduisend jaar aan alle volke oorgedra, naamlik die geestelike vryspraak op grond van die Lam wat vir ons sonde gesterf het, die seën van volle identifikasie met sy sondelose lewe, die gelykvormigheid aan sy opstandingslewe, die vervulling met sy Heilige Gees, die blye vooruitsig op die wegvoering van die gemeente aan die einde van die kerkdispensasie, die terugkeer na die aarde saam met Christus as Koning, en die vreugde van ’n vervulde Loofhuttefees wanneer die Messiasryk in al sy heerlikheid op aarde gevestig sal wees. Dit is die beloftes wat die Here gemaak het aan dié wat Hom liefhet, m.a.w. aan die lede van sy liggaam.
Die vervulling van die sewe feeste in Nuwe-Testamentiese tye het regstreekse implikasies vir alle mense op aarde, afhangend van hoe hulle daarop reageer. Daar word onbeskryflike seën gebied aan diegene wat met die Here Jesus versoen is en deel van sy koninkryk word, maar skrikwekkende oordele oor almal wat Hom as Verlosser en Koning verwerp het.
Vir meer besonderhede oor die sewe feeste, lees die volgende artikel: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Israelfeeste2.htm
U kan ook ’n volledige boek deur Johan Malan oor die feeste lees, wat deur Lux Verbi uitgegee is: Die Sewe Feeste; God se profetiese raadsplan vir redding en groei. Beskikbaar by Christelike boekwinkels.
Die feit dat die eerste vier feeste letterlik op hulle bestemde tye vervul is, behoort aan ons meer as genoeg vrymoedigheid te gee om ook die ewe letterlike en chronologiese vervulling van die laaste drie feeste te verwag: die insameling van die oes tesame met die blaas van ’n hemelse basuin, gevolg deur groot benoudheid oor Israel en die ongeredde nasies tydens die verdrukking. Hierdie donker tydperk in die wêreldgeskiedenis sal gevolg word deur die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk op aarde. Ons mees volledige boek oor die eindtyd kan gratis gelees word: http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Bybel%20Profesiee.htm
Stel uself ook op hoogte oor die vervulling van spesifieke tekens van die tye, sodat meer duidelikheid oor die Here se profetiese program verkry kan word. Die beroeringe in die Arabiese wêreld (tans veral in Sirië) betrek verskeie groot moondhede by die stryd in die Midde-Ooste en hou ook direkte implikasies vir die voortbestaan van Israel in. Vir meer insig hieroor, luister na Scottie Clarke se boodskap: http://www.youtube.com/watch?v=4jw16k2qO0c
Daar is verskillende en dikwels uiteenlopende boodskappe op die Internet oor die eindtyd beskikbaar, daarom is dit nodig dat u ’n vaste Bybelse raamwerk oor Bybelse profesieë het. Dit sal u help om te kan onderskei tussen die toenemende aantal valse bewerings en die waarheid.