Die Skielike Wegvoering van Christus se Bruid

Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2015)

Die Bybelse belofte oor die wegvoering (of wegraping) van Christus se aardse bruid na haar hemelse woning is ʼn onderwerp wat tans druk bespreek word onder vriende, in sekere kerke én veral ook op die internet. In die lig van al die antichristelike hervormings in die wêreld word die wegraping as baie naby beskou. Hierdie Goddelike ingryping sal die formele einde van die kerkbedeling meebring (in elk geval wat evangeliese kerke betref), en dit sal met verskeie dramatiese gebeurtenisse gepaard gaan. Paulus beskryf dit só:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:13-18).

Verskeie vrae in verband met die ontslape gelowiges, en ook die manier waarop die hele groep – ontslapenes sowel as lewendes – met Christus verenig en na hulle hemelse tuiste weggevoer sal word, word in hierdie gedeelte beantwoord. In samehang met ander Skrifgedeeltes skep dié beskrywing ʼn duidelike beeld van ware Christene se toekomsverwagting. Die volgende aspekte daarvan moet goed begryp en in die regte verband met ander profesieë verstaan word:

Ontslape gelowiges kom van die hemel af terug vir die eerste opstanding

Net voor die groot oomblik van die verheerliking en wegvoering van Christus se bruid, sal die Here Jesus van die hemel af neerdaal en die ontslape gelowiges saam met Hom bring. Deur hierdie stelling word lig gewerp op die feit dat die Paradys sedert Christus se hemelvaart in die hemel is, en dit is waar die ontslape gelowiges tans is. Paulus sê in 2 Korinthiërs 12:2-4 dat hy weggeruk is tot in die derde hemel, en hy noem dit die Paradys. Die eerste hemel is die atmosferiese hemel waarin die voëls van die hemel vlieg; die tweede hemel is die sterrehemel; en die derde hemel is die hoogste hemel waar God woon.

Die woord paradys beteken lushof, tuin of park, en verwys na ʼn plek waar die mens in volkome vrede in die Here se teenwoordigheid kan verkeer. Die Tuin van Eden waarin Adam en Eva met God gewandel het, is ook Paradys genoem. In die Septuagint (ʼn Griekse vertaling van die Ou Testament) en in die Vulgaat (ʼn Latynse vertaling van die Bybel) word die Tuin van Eden (Gen. 2:9 e.v.) as die Paradys beskryf. Weens die sondeval het Adam en Eva sterflike, sondige mense geword en is uit die Paradys verdryf. Sedertdien het die mensdom in ʼn oorwegend sondige wêreld gewoon wat in die mag van die Bose lê (Ef. 6:12; 2 Kor. 4:4; 1 Joh. 5:19).

In die eeue wat op die sondeval gevolg het, is die Paradys in die geesteswêreld onder die aarde gevestig. Hier is twee bewaarplekke vir die geeste van afgestorwenes gevestig – die een is die Paradys waar die ontslape gelowiges was in afwagting op die koms van Christus, en die ander een die doderyk (hades in Grieks en sheol in Hebreeus), waar die ongereddes steeds is. In ʼn sekere sin kan hierdie twee plekke beskryf word as die wagkamers vir onderskeidelik die hemel en die hel. Tussen die twee is daar ʼn groot en onoorbrugbare kloof (Luk. 16:26)

Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy vir die rower gesê wat tot bekering gekom het: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Direk ná sy kruisdood het Jesus neergedaal na die onderste dele van die aarde (Ef. 4:9). Hier was Hy in die Paradys, waar Hy Homself vertoon het aan al die Ou-Testamentiese gelowiges wat op sy koms en soendood as die Offerlam van God gewag het. Die bloed van offerdiere in die Ou Testament kon nie mense se sonde wegwas nie, en was slegs skaduagtige heenwysings na Christus se eenmalige offer aan die kruis (Heb. 10:1-10). Eers toe die belofte van die Messias vervul is (Heb. 11:39), kon al hierdie gelowiges toegang tot die hemel verkry en die Paradys oorgeplaas word van ʼn plek onder die aarde na die derde hemel waar Paulus dit gesien het.

Toe Jesus tussen sy kruisdood en opstanding in die onderste dele van die aarde was, was Hy nie net in die Paradys nie maar ook in die doderyk. Hy het dus nie “ter helle” neergedaal nie, maar na die onderste dele van die aarde. In die doderyk (hades) het Hy “gepreek vir die geeste in die gevangenis” (1 Pet. 3:19; 2 Pet. 2:4). Hulle is nie tot bekering opgeroep nie, want die tyd daarvoor was verby. Die verlorenes moes weet dat toe hulle op aarde God en sy Woord verwerp het, hulle in werklikheid vir Christus verwerp het wat die vleesgeworde Woord is (Joh. 1:14). Hy sal hulle eendag voor die groot wit troon oordeel (Hand. 17:30-31).

Veertig dae ná Christus se opstanding uit die dood het Hy nie weer na die onderste dele van die aarde neergedaal nie, maar opgevaar hemel toe waar die Paradys sedertdien is. Paulus het gesê: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil. 1:23). Daar in die hemel, saam met al die ander gestorwe heiliges, is Paulus op die oomblik steeds in die teenwoordigheid van die Here. Van hier af sal almal van hulle saam met Christus neerdaal aarde toe wanneer die basuin blaas.

Die eerste opstanding

Volgens Bybelse beloftes sal die ontslape heiliges wat tans ʼn bewuste bestaan in hulle gees en siel voer, ook fisies opgewek word in verheerlikte liggame. Wanneer Christus sy bruidsgemeente versamel, sal die ontslapenes eers tot op die aarde neerdaal na die plekke waar hulle liggaamlik gesterf het, om hier nuwe, verheerlikte liggame te kry. Op daardie selfde oomblik wanneer dit gebeur, sal die gelowiges wat nog in die lewe is, ook verheerlikte liggame ontvang. Christus “[sal] ons vernederde liggaam van gedaante verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:21). Paulus beskryf hierdie ervaring só:

“Kyk, ek deel julle ʼn verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ʼn oomblik, in ʼn oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53). Die ongeredde dode staan nie by hierdie geleentheid op nie en sal eers opgewek word kort voor die eindoordeel ná die duisendjarige vrederyk (Op. 20:5-6). Dan sal die dood en die doderyk (hades) in die poel van vuur (gehenna) gewerp word (Op. 20:14).

Wanneer die eerste opstanding plaasgevind en al die gelowiges verheerlikte liggame verkry het, sal hulle as ʼn verenigde groep rondom die Here Jesus as die hemelse Bruidegom vergader word. Daarna sal hulle altyd naby Hom bly en in sy heerlikheid deel.

Die wegvoering

Die wegvoering van die gemeente geskied in twee fases – eers net van die aarde af tot by Christus in die lug, en dan daarvandaan verder tot in die hemel. Sonder ʼn wegvoering, of wegraping, is daar geen ander manier om in die hemel uit te kom nie! En tóg is daar baie gelowiges wat hierdie begrip betwis en selfs heeltemal ontken. In werklikheid is “wegvoering” (harpazo in Grieks) ʼn baie bekende begrip in die Nuwe Testament wat dikwels ook in ander verbande gebruik word. Harpazo beteken om vinnig van een plek af na ʼn ander weggeneem te word. Die volgende is voorbeelde van die gebruik van hierdie woord:

·         Paulus sê: “Ek weet van ʼn man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie ... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel” (2 Kor. 12:2-4). Paulus is 14 jaar tevore weggeraap tot in die derde hemel, en hy noem dié plek ook die Paradys.

·         “En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie. ... Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig” (Hand. 8:39-40). Filippus is skielik deur die Gees van God weggevoer na ʼn ander bestemming.

·         “En [die vrou] het ʼn manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Op. 12:5). Die vrou verwys na die volk Israel, die manlike kind wat uit dié volk gebore is, na Jesus as Messias/Koning, en sy wegrukking na die hemel verwys na sy hemelvaart. Hy is van die aarde af weggeruk of weggeraap na God en sy troon (vgl. Hand. 1:9).

Die wegraping van die ware kerk is ʼn bonatuurlik ingryping deur God, en dit gaan enige wetenskaplike verklaring te bowe. Niks is vir die Here onmoontlik nie en ons kan nie met ons beperkte kennis en vermoëns probeer besluit wat Hy kan doen en wat nie.

Die ontvlugting uit komende oordele

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ʼn ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ʼn donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle beskou word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter aan die Here getrou bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens gestel te word. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Afrikaanse Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James Bybel en die meeste ander Engelse vertalings is volkome korrek as hulle hierdie aksie van ontvlug as escape vertaal. Ons sal nie hier wees nie, daarom is die belofte van die wegraping ʼn positiewe en opbouende boodskap. Paulus sê: “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:18).

Die beginsel van ontvlugting uit oordele kom dikwels in die Bybel voor, en onderstreep die feit dat God nooit die gelowiges saam met die ongelowiges oordeel nie. In die dae van Noag het God sy oordele oor ʼn bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van Goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ʼn plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23).

In die tyd van Lot het daar ook ʼn uitreddingsaksie plaasgevind. Hy en sy gesin het in die nag voordat Sodom en Gomorra vernietig is, ʼn dringende opdrag gekry om die rampgebied van Goddelike oordele te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25). Daar is ʼn duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking, daarom het die Here Jesus gesê: “Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:30).

Dieselfde volgorde van gebeure sal weer in die eindtyd afspeel: Eerstens is daar die oproep tot bekering, saam met die waarskuwings van straf oor die onbekeerlikes. Tweedens is daar die verwydering van die gelowiges na ʼn plek van veiligheid voordat die sondaars gestraf word. Derdens is daar die uitgiet van Goddelike toorn oor almal wat God se aanbod van genade en redding versmaai het. Ons is nou op die drumpel van die tweede fase, wanneer die basuin sal blaas vir wegraping van die gemeente.

Die twee stadiums van Christus se koms

Dit is volgens die Bybel duidelik dat daar twee stadiums in Christus se koms is, naamlik sy geheime koms vir sy heiliges en sy openbare koms met sy heiliges. In die eerste geval kom Hy soos ʼn dief vir dié wat gereed is: “Kyk, Ek kom soos ʼn dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar” (Op. 16:15). In die tweede geval kom Hy ten aanskoue van almal om as Regter sy vyande te oordeel en as Koning te regeer: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien” (Op. 1:7). Ons maak egter vir sy geheime koms gereed, wanneer ons Hom iewers in die lug sal ontmoet. By dié geleentheid sal Hy nie sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5) en deur elke oog gesien word nie. Die sewe jaar van verdrukking en oordele sal tussen die twee stadiums van sy koms verloop.

Christus se verskyning aan sy bruidsgemeente word in die Bybel beskryf na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike. Nadat die Joodse bruidegom ʼn huwelikskontrak met sy voornemende bruid gesluit en die volle prys vir haar betaal het, het hy vir ʼn lang tyd weggegaan om vir hulle ʼn woning op te rig by sy vaderhuis. Wanneer hy hiermee klaar was, het hy sy bruid gaan haal – gewoonlik tussen 6-uur die aand en middernag. Sy en haar diensmeisies het hulle lampe geneem en hom op die pad buite die dorp ingewag, waar hy hulle ontmoet en dadelik teruggedraai het na sy vaderhuis. Haar gesinslede en ander mense in die dorp het nie die bruidegom by dié geleentheid gesien nie.

Die Here Jesus tree ook so op. Tydens sy eerste koms het Hy verlossing aan alle mense kom bied en ook met sy bloed betaal sodat hulle uit die mag van sonde vrygekoop kan word. Wanneer Hy terugkom, kom hy aanvanklik net om sy bruid te kom haal en haar buitekant die aarde in die lug te ontmoet. By dié geleentheid sal Hy Homself beslis nie aan die res van die wêreld openbaar nie. Tydens sy eerste koms het Hy aan sy dissipels belowe om hulle te kom haal nadat Hy vir hulle plek gaan berei het: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3). Wanneer die basuin blaas, kom Hy sy bruid haal, en sal haar vinnig van die aarde af wegvoer – in ʼn oomblik, in ʼn oogwink.

Seën én skok

Dit is duidelik dat wanneer die wegraping plaasvind, dit ʼn groot seën sal wees vir diegene wat daarvoor gereed is, maar ʼn geweldige skok vir almal wat agterbly. Onder dié wat agterbly, sal daar ook baie kerklidmate wees wat gemeen het dat hulle gereed was, maar deur hulle eie nalatigheid nie aan die geestelike vereistes vir die bruid van die Lam voldoen nie. Dit is nie genoeg om gedoop en aangeneem te wees en aan ʼn kerk te behoort nie, want die moontlikheid bestaan dat jy dalk net ʼn kopkennis van die Christendom het en die Here net met jou lippe bely (met jou verstand en nie met jou hart nie; vgl. Matt. 15:8-9). Dit lei na ʼn lewelose vormgodsdiens waarin mense se harte onaangeraak bly deur die evangelie – hulle het slegs ʼn uiterlike gedaante van godsaligheid (2 Tim. 3:5). Die Here Jesus vereis veranderde, weergebore harte by sy volgelinge (Joh. 3:3), asook ʼn volle oorgawe tot heiligmaking, wat sal verseker dat hulle nie deur die vlees wandel nie maar deur die Gees (Rom. 8:1; Gal. 5:16).

Uit die gelykenis van die tien maagde (Matt. 25:1-13) blyk dit dat die helfte van die “gelowiges” wat uitgegaan het om die Bruidegom te ontmoet, nie genoeg olie gehad het om hulle lampe brandend te hou nie. Die olie is ʼn bekende simbool van die Heilige Gees. ʼn Gebrek hieraan dui daarop dat sekere kerklidmate meer op hulle eie vermoëns as op die Heilige Gees vertrou om God te behaag. Hierdie vorm van selfregverdiging lei egter na vleeslikheid en geestelike doodsheid.

In Openbaring 3 is daar ʼn voorbeeld van ʼn vormgodsdienstige gemeente waarvan talle lidmate geestelik dood was. Daar was nietemin ʼn paar weergebore, Geesvervulde lidmate wie se lewens met die Here reg was, en net hulle sal saamgaan wanneer die Here soos ʼn dief in die nag kom: “Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God [die volheid van die Heilige Gees] ... het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef en jy is dood. ... As jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ʼn dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie. Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele” (Op. 3:1-5).

As ons vir die koms van die hemelse Bruidegom gereed wil wees, moet ons oorwin teen sonde en wêreldgesindheid, ook teen vormgodsdiens, valse pretensies en geestelike doodsheid. Is jou verhouding met die Here Jesus reg? Indien wel, dan kan jy met blydskap na sy koms uitsien. Alle mense op aarde het ʼn vaste afspraak om voor Hom te verskyn, want voor Hom sal elke knie buig (Fil. 2:10-11). Jy sal óf ná die wegraping met blydskap voor Hom as jou Verlosser en Bruidegom verskyn, óf jy sal ná die tweede opstanding bewend voor Hom staan as die Regter wat sondaars sal veroordeel omdat hulle so ʼn groot saligheid veronagsaam het. Die regte besluit oor ons verhouding met Jesus Christus bring vir ons die ewige lewe mee, maar ʼn verkeerde besluit (of geen besluit) lei na die ewige dood.

Verdere artikels oor die wegraping:

Die wegraping: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Wegraping.htm

Redes vir die wegraping: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Redes.htm

Die wegraping voor die verdrukking en ʼn perspektief op die basuine: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Voorverdrukwegraping.htm

Die belofte van die wegraping in Thessalonicense: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Thess.htm

Die wegraping van die kerk: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Cooperart.htm

Israel en die Kerk in Profesie: ʼn Verklaring van die Voorverdrukkingwegraping: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Voorverdruk.htm

Groot Afval Volg Ná Christene se Vertrek: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Vertrek.htm

Sleutel tot die verstaan van Openbaring: http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Verheerlikte.htm